Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *
23
Sun, Feb

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

STELLALANDER-VRYBURG – Vicky Kruger (11) van Vryburg is ‘n inspirasie vir almal wat haar storie hoor. 
Gebore met serebrale gestremdheid, het sy al talle uitdagings oorkom, en onlangs het sy haar heel eerste solo-fietsren aangepak tydens die Ottosdal Draf en Trap op Saterdag, 25 Januarie. Vicky, ‘n leerder by Stellaland Laerskool in Vryburg, het voorheen slegs op ‘n tandemfiets saam met een van haar ouers, Wilhelm of Delia Kruger, gery.

Vir hierdie wedren het sy egter ‘n spesiale fiets met twee ekstra wiele aan die agterkant gebruik. Haar ma Delia vertel dat hierdie fiets baie swaar was vir ‘n 11-jarige, maar dit het Vicky nie teruggehou nie. Toe die Kruger-gesin by die wedren aankom, het hulle ontdek dat die agterste wiel van Vicky se fiets pap was. Pa Wilhelm het dit probeer pomp, maar die skade was erger as verwag, en die wiel het dadelik weer leeg geloop. Ten spyte hiervan het Vicky vasberade die 20km-wedren aangedurf. “Ek het vir haar gesê ons hoef nie die hele wedren te voltooi nie, maar sy het eenvoudig geweier om op te gee,” vertel Delia.
 Die pad met opdraendes en afdraendes het sonder voorval verloop, maar die wind van voor het hulle en veral vir Vicky swaar laat trap met die opdraendes. Op die opdraandes moes sy soms help stoot, aangesien die pap wiel dit moeilik gemaak het vir Vicky om vorentoe te beweeg. Met skaars ‘n kilometer oor en die eindstreep in sig, het die voorste wiel van Vicky se fiets gebars. Rook en slym het uit die band gespoeg, en vir die eerste keer het Vicky in trane uitgebars. Sy het só hard geveg om die wedren te voltooi, en nou was haar fiets onrybaar. Maar Vicky se vegtersgees het nie hier gestop nie. 
Delia het haar oortuig om aan te hou stap sodat sy die wedren kan voltooi. ‘n Ondersteuningsvoertuig het hulle gehelp deur die fiets op te laai, en na twee en ‘n half uur se stryd het Vicky, oor die wenstreep gestap – en haar heel eerste solo-fietsren voltooi. Vicky se broer, Carel, en haar pa Wilhelm het ook onderskeidelik aan die 20km en 40km afstande in die wedren deelgeneem. Delia vertel dat sy ongelooflik trots is op haar dogter se uithouvermoë en positiewe gesindheid tydens die uiters spesiale oomblik in haar lewe. “Sy is ‘n ware vasbyter en gee nie maklik moed op nie. Ons is ongelooflik lief vir haar, en haar deursettingsvermoë is ‘n inspirasie vir ons almal,” sê Delia. Na ‘n lang en uitdagende wedren was Vicky moeg, maar sy het nie een keer gekla nie – ‘n bewys dat ‘n vegter se gees selfs nie deur ‘n pap en ‘n tweede gebarste band gekeer kan word nie.