GEMSBOK-UPINGTON: Die uitmuntende dienste van ‘n polisie kontabel van Rosedale het die afgelope week die harte van derduisende Gemsbok-volgers op sosiale media aangeraak.
Dit volg nadat ‘n ontstelde bejaarde egpaar, mnr en mev Fritz van Rosedale, die polisiestasie onlangs besoek het - in ‘n poging om hulp te soek om hul dogter - met wie hulle kontak verloor het in Londen in die Verenigde Koninkryk - op te spoor.
Die aangewese vuurwapenbeampte, konstabel Mirjam Bock, verbonde aan Rosedale SAPD - het gehoor van hul lot en die ekstra myl gestap.
Die benoude egpaar het nie geweet hoe of waarheen om te gaan vir bystand nie.
Nadat sy van hul dilemma gehoor het, het konstabel Bok, wat ‘n kontak in Londen het, aangebied om hulle by te staan. Konstabel Bok het na haar kontak in Londen uitgereik.
Nadat sy die besonderhede van die dogter gedeel het, kon haar vriendin in Londen die Fritz-dogter opspoor.
Kort daarna het die dogter kontak gemaak met haar bekommerde ouers in Upington.
Die dankbare egpaar het ‘n boodskap van waardering aan Upington Korporatiewe Kommunikasie gestuur en was vol lof en waardering vir die uitstaande en buitengewone diens wat hulle van konstabel Mirjam Bock ontvang het.