GEMSBOK-GROBLERSHOOP: Plaaslike skrywer, evangelis en sendeling, Neels de Waal, se nuutste pennevrug - Openbaring vir almal - is onlangs by die Slypsteen Gastehuis bekend gestel.
Neels het gesê dat hy voorheen al ‘n bybelstudie oor Openbaring geskryf het, wat hom twee jaar geneem het.
Hulle Bybelstudie groep wou graag
Openbaring deurwerk, maar hy was maar skrikkerig daarvoor - want Openbaring is maar moeilik. In die tyd gebeur dit dat hy by Keimoes in ‘n apteek instap en daar sien hy Jan du Rand se boek oor Openbaring.
Dit was ‘n dik boek. DIE A-Z VAN OPENBARING. Met die boek en verskeie ander Bybel kommentare het hy die taak aangepak. Oor dieselfde tydperk het hy en sy vrou, Wena, ook die geleentheid gekry om die sewe gemeentes in Turkye te gaan besoek - wat baie gehelp het om van die simbole wat Johannes gebruik het te verstaan.
Na Israel en Hamas weer begin oorlog maak het, was daar baie mense op sosiale media wat weereens die eindtyd voorspel het.
Dit het Neels laat voel dat hulle net dele uit Openbaring aanhaal en dat hulle dit buite verband aanhaal met die res van die boek. Hy sê ook elke keer wat Israel in ‘n oorlog betrokke raak, is dit dieselfde storie.
Deesdae ook na elke groot ramp wat die aarde tref.
Daarom het hy be-sluit om ‘Openbaring vir Almal’ te skryf op ‘n manier wat almal dit kan verstaan.
Die boek is geskryf in die vorm van ‘n brief wat Apostel Johannes aan die gelowiges van sewe gemeentes in Asië skryf.
Hy noem hulle sy geestelike kinders. Simbole wat gebruik is word gemaklik in die werk verklaar.
Neels het ook gesê dat hy - sonder om arrogant te wees - wil verklaar dat hy nie die eintlike skrywer is nie, maar dat die Heilige Gees die woorde laat vloei het en hy kon net tik.
Die eerste stel boeke het sommer vinnig uitverkoop en die volgende stel word binnekort gedruk.
Om jou kopie van ‘Openbaring vir Almal’ te besit, kontak gerus Neels se skoondogter, Bernice, by 063 127 9340.