GEMSBOK-UPINGTON: Minstens een persoon is dood nadat ‘n massiewe storm deur die Augrabies-omgewing in die Noord-Kaap getrek het.
Die polisie sê die man het probeer om skuiling teen die storm onder ‘n boom te vind, toe die boom ontwortel en op hom geval het.
Volgens Martha Clarke, kommunikasiebestuurder vir die ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit het die storm wydverspreide skade aan huise en ander infrastruktuur aangerig.
Sy het gesê “op grond van die bevindinge van hierdie assesserings sal die Interdepartementele Reaksiespan ‘n omvattende herstelplan ontwikkel wat die behoeftes van die geaffekteerde gemeenskappe aanspreek”.
LUR Bentley Vass verantwoordelik vir die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (COGHSTA), in die Noord-Kaap, het intussen ‘n verslag ontvang oor die omvang van die donderstorms.
LUR Vass, het gesê ‘’Ons betuig ons innige meegevoel met die familie van die oorledene wat op so ‘n tragiese wyse oorlede is.”
’n Multidissiplinêre span bestaande uit die plaaslike en distriksmunisipaliteite, verskillende staatsdepartemente en nooddienste, gelei deur die Provinsiale Rampbestuursentrum (PDMC), gaan voort om die situasie in die geaffekteerde area te evalueer.
Die span is gemobiliseer om vinnig te werk en ander staats-entiteite soos Eskom te betrek, om ‘n mate van normaliteit aan die ontstelde gesinne te bring.
Tydelike skuilingreëlings is getref vir meer as sestig lede van die ontheemde gesinne
Die verspreiding van basiese benodigdhede soos kos, water en klere is aan die gang in die gebied en die regering het ook ‘n span uitgestuur om die skade by die plaaslike skool te bepaal, asook om psigososiale ondersteuning aan leerders en onderwysers van die betrokke skool in die area te verskaf.
LUR Vass het afgesluit deur te sê dat ‘n omvattende herstelplan ontwikkel sal word om die gesinne te help om hul lewens te herbou.