GEMSBOK-UPINGTON: 'n Groep leerders van Hoërskool Duineveld en LON het verlede week die Kalahari-Oranje Museum besoek.
Die groep het bestaan uit leerders wat van kultuur hou en hoofsaaklik uit redenaars en spellers.
Veltie redenaars het vanjaar uitstekend presteer, met 5 leerders wat aan landsfinale deelgeneem het.
Juf. Louise van Zyl het haar Rooibye vergesel en in verstomming gestaan by die baba stootwaentjie "pram" uit die ou dae.
Mev. Jolene van Niekerk, die kurator van die museum, het interessante voorwerpe uitgewys, soos bv. die mampoer-ketel en die kameelsaal, wat ons leerders baie geniet het.
Mev. van Niekerk het met passie vertel van die geskiedenis van Upington. Sy het die leerders uitgenooi om met hul take oor Upington na haar toe te kom en om sommer ook net te kom kuier. Die deure van Kalahari-Oranje Museum is oop vir almal.
Na 'n besoek aan die pastorie het die groep deur die saal gestap. Die museum uitstappie is afgesluit met 'n heerlike glas koeldrank op die gras langs die museum. Hulle het vir Jolene gegroet as Vriende van die Museum, wat beslis binnekort weer gaan kom kuier.