Die krieketklub Upington Lions het verlede Saterdag die ZFM-Subunie trofee vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen toe hy die jong en onervare span van Carltonians in die eindstryd oortuigend met ses paaltjies geklop het.
Die wedstryd is op ‘n baie goeie kolfblad van Hoèrskool Duineveld gespeel wat aan die bouler en kolwer die geleentheid gegee het om munt daaruit te slaan.
Die jongspan van Carltonians het die loot gewen en het dadelik besluit om eerste te kolf in ‘n ligte oggendliggie wat die snelboulers met goeie swaai deur die lug gehelp het.
Elrich Cloete het sy voete gou gevind en hy het Lions se boulers met skitterende dryf- kap-en trekhoue agter die rooi leer balletjie laat spaander. Diè 22-jarige veelsydige speler het 53 lopies van 49 balle geslaan wat 6 viere en 2 reuse sesse ingesluit het. Sy treftempo was ‘n indrukwekkende 108.2.
Franco Swart het vir Lions met sy mediumaflewerings 3/16 in 6 boulbeurte die belangrike deurbrake gemaak.
Carltonians het egter ‘n teleurstellende dag met die kolf op ‘n goeie blad gehad en is vir 113 lopies in slegs 27.2 boulbeurte uitgeknikker.
Die wenspan het goed afgesit in sy jaagtog waarin die veelsydige Franco Swart (46*) en Jaco Beukes (31) met gemak die lopies aangeteken het. Toe Lions drie vinnige paaltjies verloor het Carltonians met nuwe vuur teruggeveg. Swart het goed vasgeskop en hy het met groot geduld die vurige snelboulers van Carltonians trotseer. Hier het veral die lenige Roger Isaacs met vaart en swaai die Lions kolwers ‘n paar benoude oomblikke besorg. Ook die jong Kaylin Snyders (2/19) het voortreflik vir Lions gevaar met goeie stadige en kort balle.
Lions se vegtersgees en hul groter ervarendheid het op die dag se spel duidelik deur-geskemer wat ook aan hulle die oorwinning besorg het.
* Vorige wenners van die ZFM-Sub-unie trofee is, Uppies (2014/’15) en Carltonians (2015/’16).