Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Met alles wat in die wêreld gebeur, is dit bemoedigend om te weet mense kan steeds bymekaarkom en feesvier - en die kunste, die taal, die samesyn, mekaar vier.

En met Aardklop in Potchefstroom is dit net die regte verskoning vir ‘n opskop soos min. Die fees skop af op Erfenisdag 24 September en duur tot Sondag 29 September. Net vier jaar gelede het dinge maar duister gelyk, maar danksy harde werk, deursettingsvermoë en die ondersteuning van borge en die publiek het dié fees soos die spreekwoordelike feniks uit die as verrys. 

 

 

 

Momentum Beleggings Aardklop het vanjaar se feesprogram vandeesweek amptelik bekendgestel en die feesaanbod is opwindend met immergewilde kunstenaars en vermaak, maar ook met die nodige uitdagende aanbiedings. “Want wat sal die kunste tog wees indien sy vergeet om die steeds belangrike vrae te vra aan ons as ’n bitter unieke samelewing?” vra Alexa Strachan, uitvoerende hoof.

Die program bied alles van ligte vermaak en gesellige informele kuiers tot teater wat jou diep sal laat dink en klassieke musiek wat jou gees sal voed. “Van vroegoggend-manewales tot laataand-kuiers - dit is nie net leë beloftes as ons sê hier is voorwaar iets vir elkeen nie.’’

Dr Fränzo Friedrich, bemarkingshoof van Momentum Beleggings, die naamborg, het ook weer hul betrokkenheid by Aardklop bevestig. “Aardklop het in 2023 daarin geslaag om die kunste te laat vlamvat met ’n verskeidenheid teater- en feesterreinervarings. Ons, as naamborg, is opgewonde om weer te kan bydra tot hierdie persoonlike ervarings.”

Hoogtepunte
* The Roots is weer die tuiste van aktuele en boekgesprekke, asook lekker proe-ervarings. ’n Opwindende nuutjie by Aardklop 2024 is die Substasie by The Roots, ’n alternatiewe kuierplek waar die immergewilde Hannes van Wyk soggens gesels, en waar mense soos Dana Snyman, Kabous Meiring en Bun Booyens smiddae dieper besin. Ná sononder neem die muso’s oor en word daar tot laatnag ge-jam en gekuier.

* Dan is daar natuurlik toneel, waarvan daar vanjaar ’n hele spektrum van aanbiedings is. Aan die ernstige kant is daar die Kanna-wenner Die Stoele, met die veelbekroonde Antoinette Kellermann en Chris van Niekerk, Forte met Rika Sennett en Jacques Adriaanse, en Ken jy vir Dewie? met onder andere Crystal Donna Roberts.  

* Verskeie stukke het ook hul debuut by vanjaar se fees, waaronder Laaitie mettie biscuits, met regie en teks deur Christo Davids. Stinkhout deur Philip Rademeyer, met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt, handel oor ’n pa en seun wat mekaar probeer vind, maar telkens in hul eie pad staan. En dan is daar Joanie Combrinck en Laurinda Hofmeyr se -Loos, ’n woordkuns- en musiekproduksie met bydrae deur verskeie digters wat al die fasette van verlies deernisvol ondersoek. 

* Op ’n ligter trant is Marion Holm terug, dié keer in die gedaante van Marion Monroe, waarin sy wonder oor die waarde van ’n naam. “Dit is nie ernstig of diep nie, net snaaks,” waarsku sy. En dan is die geliefde Magda Louw (Desiré Gardner) ook weer by Aardklop met ’n splinternuwe episode in dié karakter se lewe - jy gaan beslis lag met ’n traan.

* Daar is uiteraard geen tekort aan musiek nie, en vanjaar spog die fees met in die 20 produksies plus tientalle optredes op die feesterreinverhoog en by die Substasie. Jy kan uitsien na name soos Amanda Strydom, Refentse, Coenie de Villiers, Nataniël, André Schwartz, Anton Goosen en Sonja Herholdt, Elvis Blue, Jannie du Toit, Joshua na die Reën, Early B – die lys is lánk. Ons sien veral uit na Nataniël se Mass for the Good Princes, ’n mis gebaseer op die klassieke struktuur van ’n gewyde komposisie met ses dele. Dit is ’n gebed vir goedheid, nuwe leierskap en die hoop van ’n nuwe generasie - en by Aardklop 2024 is die laaste keer dat hierdie produksie amptelik opgevoer gaan word.

* Tussendeur is daar ook kindervermaak - die kleintjies sal bly wees oor Liewe Heksie vang vis - en jeugtoneel met die Aardklop Pronk Podium. Natuurlik is die feesterrein met sy vele vrolike stalletjies, musiek en kos die spilpunt waar alles en almal bymekaarkom.

“Aardklop is waar feesgangers, kunstenaars, skeppers, skrywers, stalletjiehouers en skoonmakers bloot gewone mense is. Waar almal met dieselfde finansiële kommers en onsekerhede, maar ook met dieselfde behoeftes en planne bymekaar kom met een gedagte: Laat die vure van hoop en vriendskap hoog brand!” sê Strachan. 

Kry die feesprogram by Aardklop.co.za - en dan sien die fees jou in September. Kaartjieverkope open landwyd op Maandag 17 Junie. 
Besoek gerus www.aardklop.co.za vir meer inligting.