Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Inwoners van die Kosh-gebied sal koerantberigte onthou oor die dogtertjie van Orkney wat sonder arms gebore is. Boonop was haar een been korter as die ander een, maar die glimlaggende woelwater het gou in lesers se harte gekruip.

Klerksdorp Rekord het gereeld oor Pamela Gower berig, ook toe haar kleinsus gebore is. 

 

Haar eerste skooldag en baie ander mylpale is oor berig en Klerksdorpers was versot op die klein meisie wat haar nie laat onderkry het deur haar fisiese gebreke nie.

Nadat die gesin in die vroeë 1990s na die Ooskaap verhuis het, het hul harte hier gebly en Pammy se lief en leed is deur vriende en familie gevolg. 

Daarom was die nuus so verpletterend toe sy op 8 Junie, drie weke na haar 41ste verjaardag oorlede is. Dit was totaal onverwags, vertel haar sussie, Charldene Coetzee vandeesweek uit Oos-Londen. “Sy het griep gehad en was aan die herstel toe sy weer begin siek word en in ICU opgeneem is. Sy is die volgende aand om 23:40 oorlede.’’

Pamela het ten tye van afsterwe by haar ouers in Oos-Londen gewoon. Sy het kroniese pyn gehad vanwee haar skoliose en na talle operasies. Sy het op ‘n stadium motiveringspraatjies gedoen en so 7 jaar gelede daarmee opgehou weens die tol wat dit op haar liggaam geëis het. 

Daarna het sy haar in haar kuns uitgeleef en juwele gemaak, geverf en ekstra lesse in Engels en Afrikaans gegee vir kinders. Haar getroue metgesel die afgelope nege jaar, haar hondjie Willy was konstant aan haar sy en soos haar kind.

Pamela se afsterwe was ‘n dubbele slag vir die gesin met haar ma, Ansie wat die oggend na haar dood in die intensiewe sorgeenheid opgeneem is met longontsteking. 

“Dit was vir ons ‘n vreeslike skok en met my ma wat toe ook opgeneem is. My ma is Sondag,  ‘n week later, ontslaan en ons familie kan nou eers begin reelings tref en afskeid neem van ons Pammy,’’ sê Charldene. 

Die gesin is dankbaar vir die bystand van familie en vriende in die moeilike tyd. ‘n Roudiens vir Pamela word op Vrydag 21 Junie gehou. 

Sy word oorleef deur haar haar ma en pa, Ansie en Duncan, sussie Charldene en haar man, JP Coetzee wat vir Pamela die broer was wat sy nooit gehad het nie, en haar geliefde hondjie Willy.