Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Bothaville - Die laaste stof by Nampo het gaan lê nadat ‘n rekordgetal van 86 474 besoekers oor die vier dae die gewilde Oesdag besoek het.

Graan SA se 56ste Nampo wat van 14-17 Mei plaasgevind het, word allerweë as ‘n groot sukses beskou. Die rekordgetal besoekers - asook 865 uitstallers - het die handelskou se gewildheid onder landbouers, uitstallers meningvormers en almal in die samelewing wat ‘n hart vir landbou het, bevestig.

 

“Die werklike sukses van die byeenkoms gaan oor die noue vennootskappe en samewerking wat ons in die bedryf vestig - soos produsente wat sterker vennootskappe met hulle verskaffers en afnemers het en beter planne maak om volgende jaar beter te doen,” het dr Tobias Doyer na afloop van sy eerste Nampo as HUB van Graan SA gesê.

‘n Nuwe rekordbywoning op een dag in ‘n normale jaar is op Woensdag 15 Mei aangeteken met 25 505 besoekers. Op Donderdag is 24 021 besoekers deur die hekke, terwyl die Dinsdag en Vrydag elk goeie aftrek gekry het. Die vliegveld het 290 vastevlerkvliegtuie en 82 helikopters gedurende die skoudae ontvang.

“‘n Merkbare rustigheid het die hele week geheers en alles het gevloei soos dit moet sonder enige ernstige voorvalle op die terrein. Ons was geseënd met ‘n goeie Nampo,” het dr Dirk Strydom van Graan SA en hooforganiseerder gesê. “Met heerlike sonskynweer was dit die warmste Nampo in jare, wat beslis ook tot die goeie bywoning bygedra het,” het hy bygevoeg.

Danie Minnaar, voorsitter van Graan SA se Oesdagkomitee, sê die terugvoer wat hy van uitstallers ontvang het, is dat hulle baie tevrede is met die besigheid wat hulle gedoen het. Hy is ook in sy skik daarmee dat besoekers die geleentheid gehad het om Nampo volwaardig te ervaar. “Die algehele vriendelikheid en spontaneïteit van uitstallers en besoekers wat ‘n mens oral op die terrein opmerk, is sommer net lekker,” het hy gesê.

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het ook besoek afgelê, sleutelgesprekke met vennote gevoer maar bowenal die atmosfeer terdeë geniet.

 * Die datums vir aanstaande jaar is reeds vasgestel op 13-16 Mei.