Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Diereliefhebbers is bereid om berge te versit vir hul dierekinders se veiligheid.
Ferdi Mollentze van Doringkruin is so ‘n diereliefhebber. Lady, sy ses maande ou worshond, het verlede Saterdagoggend 29 Junie uit sy erf gekom. Hy het die hond se verdwyning eers die middag agtergekom toe hy weer by die huis terug is.
“Ons het oral gesoek en het toe die volgende dag twee spoorsnyhonde gehuur om te soek. Hulle is wolfhonde. Lady slaap by my dogter, Leandie. Ons het haar laken gebruik om Lady se reuk te bepaal en toe het die honde begin soek.
“Hulle het die worsie nog dieselfde dag opgespoor. Sy het in ‘n mangat in Spekboomstraat geval. Ons sou nooit daar gaan soek het nie en sy sou maar net daar doodgegaan het.
“Sy was die hele Saterdagaand alleen daar in die koue.”
Hy vertel die hondjie het nie seergekry nie en het nie geblaf of gehuil nie.
“Die gat is so 6 voet diep. Ons is net so bly ons het haar gekry. Sy was vrek honger en dors. Sy wou net by die huis kom,” vertel hy.