Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die brand wat laataand op Sondag 12 Mei in die koppies naby Ottostraat, Wilkoppies uitgebreek het, is vermoedelik deur kabeldiewe veroorsaak.
Veiligheidsgroepe moes Sondagaand bontstaan toe die vlamme gevaarlik naby aan woonhuise in die buurt kom. Volgens Deon Jordaan, voorsitter van Wilkoppies Buurtwag, het die brand in die koppie by Diamanstraat uitgebreek en het die vlamme verder versprei.
“Daar was nie ‘n wesenlike gevaar vir inwoners nie, maar van die eienaars was reg om hul huise te ontruim sou dit nodig wees. Ons was veral skrikkerig vir huise met grasdakke naby die vlamme. As daar ‘n sterk wind was, sou ons beslis moeilikheid gehad het.’’
Vir plaaslike prokureur Adrie Wahl was dit ‘n paar benoude oomblikke vir haar gesin toe hulle die oproep kry om voor te berei op ‘n moontlike ontruiming. Hulle woon teen die koppie in Ottostraat. “My eerste gedagte was wat vat ek en wat los ek. Nie gedink ek sal ooit daaroor moet besluit nie, gelukkig het ons die ergste vrygespring en was dit op die einde nie nodig nie. Ons het rustig in ons eie beddens geslaap. Ons is wel dankbaar vir almal betrokke se vinnige reaksie en bystand.’’
Jordaan het ook sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap wat kom help vlamme slaan het in die koppie aangesien die terrein dit moeilik gemaak het vir voertuie om tot daar te kom. Brandbestryders van Makadu (“wat hul storie ken’’) en Neserhof Buurtwag wat mobiele vuurveg-eenhede het, het kom hand bysit en teen 12:30 was die vuur geblus.
“Ons bedank ook Matlosana Brandweer wat kom help het, maar weer die toneel moes verlaat om bystand te verleen by ‘n ongelukstoneel waar beseerdes uit ‘n wrak gesny moes word.’’
Wilkoppies Buurtwag wil nou ook ‘n mobiele vuurvegeenheid aankoop en is besig met ‘n fondsinsameling om die projek te befonds. Enigiemand wat ‘n bydrae wil lewer, kan Jordaan skakel by 074 867 3754.