Klerksdorp Rekord, Orkney – Die jong kankerlyer waaroor Klerksdorp Rekord onlangs berig het, is vol moed dat hy die siekte sal oorwin.
Chris Grobler (11) se tweelingsussie, Chinel is ‘n geskikte beenmurgskenker vir hom, maar hy moet eers in remissie wees voor die oorplanting kan plaasvind.
Die tweeling is in Laerskool Saamtrek en spandeer die skoolvakansie of op hul fietse, besig om videospeletjies te speel of om met die boerboel te speel.
Hulle vier hul 12de verjaardag einde Julie.
Chris kry chemoterapie vir leukemie en volgens sy ma, Nelmarie, is haar klein rooikop positief en oortuig hy gaan die kanker wen.
Sy vertel sy positiwiteit is baie aansteeklik en sy en haar man, ook Chris, leer elke dag by hul seun.
Die gesin het ‘n mediese fonds, maar die fonds betaal nie alles nie en sy mediese kostes is hemelhoog.
Hy moet gereeld bloedtoetse ondergaan, wat tot R10 000 elk kos. Hy ondergaan behandeling by die Universitas Hospitaal in Bloemfontein.
‘n Gholfdag vind op Vrydag 28 Junie by die Orkney Gholfklub plaas en al die geld wat ingesamel word, sal vir sy mediese onkostes gebruik word.
Sy oom Hein reël die gholfdag en hy sal ‘n groot opkoms wil sien. Volgens Nelmarie sal haar man en dalk ook klein Chris teenwoordig wees.
Die formaat van die gholfdag is 4 Ball Alliance American Scramble Best Gross, met ‘n “shotgun” begin om 10:30. ‘n Vierbal kos R1 500 (halfweghuis ingesluit). Dit kos R2 500 om ‘n putjie te borg (sluit vierbal in).
Mense wat geld wil skenk, kan ook geld by sy BackaBuddy-profiel (Chris jnr) inbetaal. Skakel die gholfklub by 018 473 2899 om te bespreek.