Bybel ongeskonde in tiener se kamer
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Verlede week het drie huise afgebrand.
Klerksdorp Rekord het verlede week berig oor die plaashuis wat in puin gelê is en die gesin wat voor die vlamme moes vlug. Nog ‘n huis het glo ook in Neserhof afgebrand vroeër verlede week. Dit kon egter nie bevestig word nie.
Die jongste brand was op Vrydagaand 18 Oktober in Addisonstraat op Orkney waar die Sevensters woon. Mariska en haar 17-jarige dogter was nie tuis toe die brand uitgebreek het nie. Sy het skaars twee kilometer daarvandaan by haar suster gekuier toe sy vroegaand die oproep kry dat haar huis aan die brand is. “Ek kan nie eers onthou hoe ek by die huis uitgekom het nie, maar ek was soos blits daar. Dit was ‘n helse skok,’’ vertel sy vandeesweek aan Klerksdorp Rekord.
Haar man en seun werk in die buiteland en sy het onlangs die huis binne en buite uitgeverf voor hulle volgende maand terugkeer. Nou is die hele huis in puin. Hulle woon nou al ses jaar in die huis.
Mariska kan nie uitgepraat raak oor die Orkney gemeenskap se hulp wat hulle na die brand ontvang het nie. “Almal wil net help, en almal dra goed aan. Dit doen ‘n mens se hart so goed. Ek ken nou uiteindelik ook my bure en hulle is almal sulke gawe mense. Baie dankie vir almal se omgee en bystand, ook die aand van die brand.’’
‘n Brandondersoeker het Woensdag 23 Oktober die huis besoek om die oorsaak van die brand te bepaal. Die eiendom is verseker en herstelwerk sal weldra begin. Mariska en haar man se klerekaste het wonderbaarlik nie gebrand nie en sy het ‘n Bybel wat in haar dogter se kamer was, ook ongeskonde gekry. “Daar was ‘n Bybel in my klerekas en niks het daar gebrand nie. Alles in my dogter se kamer is vernietig, behalwe die Bybel.’’
Hulle is hartseer oor die verlies van hul waghond wat nie uit die huis kon ontsnap nie, en dood is in die brand. “Ek het ook sentimentele meubels verloor, maar gelukkig was my foto’s in ‘n krat in my kas en persoonlike dokumente in die kluis wat ook behoue gebly het.’’
Mariska is net dankbaar hulle was nie tuis toe dit gebeur het. “Weereens baie dankie aan almal vir hul bystand oor die tyd. Ek kan vandag met ‘n geruste hart sê ons is okay. Baie dankie.’’