Klerksdorp Rekord, Stilfontein - ‘n Deel van Umgenistraat op Stilfontein is gesluit vir verkeer nadat die teerpad begin insak het.
Die sinkende pad voor Barbara Botha se huis veroorsaak slapelose nagte en sy leef in angs dat haar huis in ‘n gat gaan ver-dwyn. “Mense verstaan nie ons vrees nie. Net verlede week het my vriendin se motor in ‘n gat in die pad weggesak. Dit is toe ons besef ons sal die pad vir verkeer moet sluit. Dit is te gevaarlik om daar te ry."
Hulle het die pad afgesper en later dieselfde dag het verkeersowerhede en amptenare van rampbestuur gelyk gegee dat dit gevaarlik daar is. Barbara is moedeloos en het haar frustrasies op sosiale media bekendgemaak aangesien sy nie in haar erf kan kom nie. “As die grond meer begin insak, kan dit skade aan ons eiendom veroorsaak. Mense is selfs te bang om daar te loop, want nou-nou sluk die aarde jou in. Dit lyk net nie of dit vir enige iemand ‘n prioriteit is om dit reg te maak nie.’’
Rdl Pieter du Preez van die Vryheidsfront Plus sê hy is besig om vuur te maak onder die betrokkenes. “Die kontrakteur moet die gemors kom regmaak. Die kompaktering is nie reg gedoen nie. Dit was herstelwerk aan ondergrondse pype wat gedoen is en daar was ‘n reuse uitgrawing van tot 30 m diep, maar toe hulle die padoppervlak moet herstel het die probleme ingekom. Nou pak EK Contruction wat die tender gekry het die skuld op die subkontrakteur en niemand neem verantwoordelikheid en kom maak reg nie.’’
Volgens hom is dit al vir maande duidelik dat die werk substandaard is, en het dit net vererger na die eerste swaar reënbui verlede week. “Die burgemeester was ook hier saam met die kontrakteur en ‘n tydelike oplossing is gevind, maar dit sal nie lank hou nie.’’ Grond is in die gat gegooi en effens gekompakteer maar die Bothas weier om daaroor te ry binne in hul erf, omdat dit te onveilig is.
Volgens Botha het sy al vroeg in Augustus gesien hoe die teer kraak en die konstruksiemaatskappy daarvan in kennis gestel. Niks het gebeur nie.
Klerksdorp Rekord het ‘n boodskap gelos by die ingenieur verbonde aan EK Construction, maar nog geen terugvoering ontvang nie.