Wending in soektog na vermiste man
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die soektog na die man wat ‘n maand gelede in Klerksdorp verdwyn het, het ‘n vreemde wending geneem nadat hy in kontak gekom het met sy ma.
“Hy lewe, hy is veilig,’’ het Natasha Swanepoel vandeesweek aan Klerksdorp Rekord gesê. Sy wou nie verder uitbrei nie, net dat haar seun nie wou verklap waar hy is nie en gesê het hy vrees vir sy lewe en die van die mense na aan hom. “Ons is in die duister, maar ek is net verlig hy lewe. Ek het regtig gevrees vir die ergste.’’
James Swanepoel is die laaste keer in Wilkeville gesien en het onderweg na die Songloed winkelsentrum verdwyn. Hy het in ‘n wit Toyota Sprinter gery wat aan sy werkgewer behoort het.
Sy verdwyning het Klerksdorpers laat regop sit toe dit bekend word dat hy in ‘n verhouding met ‘n getroude vrou betrokke is. Dit het mense dadelik laat bespiegel dat die verhouding vermoedelik agter die jong pa se verdwyning sit. Die egpaar wat bekend is aan Klerksdorp Rekord, ontken egter enige aandeel hieraan. Die vrou se man werk in die buiteland en het na James se verdwyning teruggekeer “om vure dood te slaan’’. Hulle het navrae na hul prokureur verwys.
James se ouers het verlede week van Thabazimbi af Klerksdorp toe gery om die lykshuis en hospitale te besoek om te sien of hul seun nie daar is nie. Hulle het selfs ‘n soekgeselskap gereël wat langs die Schoonspruit na enige teken van die vermiste man gesoek het.
“Ons is nogal oorweldig deur al die mense se kommentaar en bespiegeling op Facebook. Ons is dankbaar dat almal dit gedeel het. Ons weet nie wat aangaan en hoekom hy bang is nie, en hoop maar hy kontak ons weer,’’ het sy ma gesê. Sy was verlig om vir sy seuntjie wat by hulle woon te sê dat hy nog lewe.
Die polisie hanteer Swanepoel steeds as vermis. Enigiemand wat moontlik inligting het oor waar James is, word versoek om sers Jacobus Gabanyane te skakel by 082 416 0817. Inligting sal vertroulik hanteer word.