Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – Moet nie dink dit is veilig in die middestad nie, want dit is glad nie.
Só waarsku Chantal Grib, ‘n plaaslike pastoor, nadat sy en haar gesin nou onlangs slagoffers was van grypdiewe nadat hulle Binnelandse Sake in OR Tambostraat besoek het.
“Kyk, ons het geweet dit is gevaarlik daar, maar ons moes gaan vir my tienerdogter se identiteitsdokument. Ek het al die regte goed gedoen, ‘n afspraak gemaak sodat ons nie in die ry moet staan nie, niks waardevols saam met ons gevat nie en my man het ons vergesel,’’ vertel sy.
Die gesin is sterk gelowig en het selfs voor hul besoek ‘n kringetjie gemaak en mekaar in gebed opgedra en “die bloed van Jesus oor ons gepleit’’.
“As dit nie daarvoor was nie, vir daardie beskerming van God en sy engele nie, dan weet ek nie wat sou gebeur het nie. Hulle was drie wat ons getakel het net toe ons by ons motor kom wat om die draai van Binnelandse Sake naby Gasman geparkeer was,’’ sê Chantal.
Een van die mans het ‘n mes by hom gehad en daarmee na Chantal gesteek. “Ons het heeltyd hardop gebid en genadiglik kon die mes nie deur my baadjie nie. Hulle wou my klein handsak hê met net ons belangrike dokumentasie daarbinne en ek het geveg daarvoor, want hoekom moet ons net oorgee. Wat my ook geskok het, is hoe mense wat op die hoek gestaan het, net gekyk het wat met ons gebeur en nie eers iets probeer het nie. Is dit hoe apaties ons geword het? Dat ons net nie meer betrokke wil raak nie.’’
Chantal is woedend na die voorval en vra vrae oor polisiëring, sekuriteitsdienste en kameras wat ontbreek in die middestad.
“Almal weet dit is gevaarlik, maar dit is ook asof niemand iets doen nie. Daar is ‘n handjievol misdadigers wat almal teister en hulle word toegelaat om dit te doen. Ons is die mense wat belê in hierdie dorp se ekonomie, maar ons stadsraad doen niks om ons veiliger te laat voel nie. Dit is onaanvaarbaar.’’
Chantal voeg by dat hulle nie die voorval by die polisie aangemeld het nie. “Ons was te getraumatiseer daarna om nog polisiestasie toe ook te ry. Dit lyk net so onveilig daar.’’
Kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, sê dit is reeds belangrik om sulke voorvalle by die polisie aan te meld veral as jy reaksie van die polisie verwag. “Ons kan nie in ‘n gebied optredes hou as ons nie weet daar is ‘n probleem nie. Slagoffers van misdaad hoef ook nie noodwendig in te kom na die polisiestasie toe nie, maar kan inbel en vra dat die polisie hul tuis besoek om ‘n verklaring af te lê.’’
Sy sê die polisie is bewus van die misdadigers wat in die middestad bedrywig is en het gereeld patrollies en sigbaarheidsoptredes in daardie area.
“Privaat sekuriteit is ook behulpsaam om ‘n wakende oog te hou en met CCTV kameras sal dit beslis help, maar die kostes daarvoor is ongelukkig buite die polisie se jurisdiksie.’’
Volgens Chantal moet daar meer klem geplaas word op die misdaadprobleem in die middestad.
“Ek stem saam, dit is nie net die polisie se probleem nie, maar ook die sakesektor. Ek wonder wat doen ons munisipaliteit om die probleem aan te spreek.’’