Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – Vrywilligers betrokke by Mosterdsaad Gemeenskapshulp het die afgelope paar weke moue opgerol en self aan die werk gespring om slaggate in Wilkoppies en La Hoff te vul.
Die groep van ses vrywilligers is almal werkloos en kry kospakkies by Mosterdsaad. Die liefdadigheidsorganisasie voorsien kospakkies aan 750 gesinne per week. Maggie van Zuydam wat aan hoof van die organisasie staan sê die gesinne het nie ‘n broodwinner nie en is permanent van Mosterdsaad afhanklik vir kos.
Christo Booyens, ‘n sakeman, het saam met Mosterdsaad se bestuur koppe bymekaar gesit om vir van die werklose mense te help om ‘n inkomste te verdien. “Dit gee weer vir mense ‘n doel in die lewe en teen ‘n karige dagloon gee jy weer vir hul hul menswaardigheid terug. Ons het toe met die munisipaliteit gaan praat en nou help die groep van Mosterdsaad om slaggate te vul. Hulle word betaal uit skenkings wat ons van die gemeenskap kry,’’ sê hy.
Die projek het in die begin van Junie afgeskop en stadig maar seker is hulle besig om die stryd teen slaggate te wen. Die munisipaliteit voorsien hul werkspan met kundigheid om die gate te herstel, die toerusting om die werk te doen soos snygereedskap, kompakteergereedskap, verf en die trok om die warm asfalt na die werksarea te vervoer.
“Die probleem is dat die munisipaliteit nie die warm asfalt kan aankoop nie, ons weet mos nou daar is nie geld nie. Dit is waar ons inkom, ons finansier die asfalt deur middel van donasies uit ons gemeenskap en verskaf dit dus aan die munisipaliteit om slaggate te vul, veral die in ons woonbuurte waar die munisipaliteit gewoonlik nie herstelwerk doen nie,’’ sê Booyens.
Ottostraat in Wilkoppies was eerste aan die buurt en deur middel van skenkings deur inwoners van die straat om asfalt aan te koop, is daardie gate herstel. Hulle het ook al in Lautzlaan gewerk en volgende is Murantistraat in Doringkruin aan die beurt. “Die terugvoering wat ons uit die gemeenskap kry is oorweldigend positief. Ook die klompie van Mosterdsaad wat help werk. Hulle is so leergierig en werk hard.’’
Vir Maggie is die slaggatprojek ‘n uitkoms aangesien die vrywilligers ‘n deel van hul loon ook skenk aan Mosterdsaad. Hulle word R250 per dag betaal, waarvan R50 na Mosterdsaad gaan. “Die getal afhanklikes by Mosterdsaad word by die dag meer en nie minder nie. Ons kyk na nog projekte om werk te skep vir ons afhanklikes sodat die las op ons nie so swaar is nie,’’ sê sy.
Nog idees waarmee hul woeker is om brandhout te voorsien, sekuriteit op plase en om huis-ontruimings te doen.