RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - In Afrikaans lui die spreekwoord "dit is in jou bloed", as ons melding maak van iemand wat iets van nature máklik en gémaklik doen.
In die geval van Wilhelm Willemse (78) is bloedskenk in sy bloed. Oom Wilhelm skenk al vir 58 jaar lank bloed, en vir die van ons wat nog nie eers dié ouderdom bereik het nie, klink dit soos 'n leeftyd - en dit is!
Daaroom ook dat Wilhelm 'n paar weke gelede soos 'n regte "celebrity" behandel is deur die personeel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) toe hy 'n indrukwekkende 300ste keer bloed geskenk het.
Wilhelm se bloedskenk-verhaal het begin met die geboorte van sy eerste seun, Rudy. "Hy is vroeg gebore en was 32 dae in 'n broeikas. Al die bloed en naalde het 'n groot indruk op my gemaak," en só het Wilhelm die waarde van bloedskenk (die geskenk van lewe) besef. Hy moedig ook sy familie aan om te skenk en "my een kleindogter skenk al van 16 af," sê hy met trots.
Na die ondervinding met sy pasgebore seun het hy 'n gereelde skenker geword. Wilhelm en sy vrou het ook 18 jaar lank gewerk vir SANBS as komiteelede en bande met die bloedskenk-gemeenskap gesmee in Klerksdorp, Polokwane en uiteindelik Rustenburg. "Ons was ook deel van die 'biker-gemeenskap' en was baie betrokke by hulle bloedskenk-dae."
Maar wat is nou eintlik die rede vir oom Wilhelm se lewenslange toewyding aan bloedskenk? "Jy kan iets gee wat nie aan jou behoort nie - wat lewe veroorsaak. Solank ek nog kan hop-hop spinnekop, sal ek aanhou bloed skenk. Alle eer aan die Here wat my die gesondheid gegee het al die jare."
Bloedskenk-vereistes:
* Ouderdom: 16 tot 75
* Massa: 50kg of meer
* Goeie algemene gesondheid en geen onlangse siekte
* Lei van 'n veilige leefstyl
* Toewyding om gereeld te skenk
* Eet 'n gereg of versnapering voor skenking.
Lifestyle Donor Centre (Eerste vloer, Lifestyle Square) besigheidsure:
Maandae - 10:00 tot 17:00
Dinsdae - 09:00 tot 18:00
Woensdae -Vrydae - 09:00 tot 17:00
Saterdae - 09:00 tot 15:00
Sondae - Gesluit