RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Inwoners en besighede van die dorp word gevra om betrokke te raak by "Maak 'n verskil".
Gemeenskapslede wat reeds by dié groep van vrywilligers betrokke is, het verlede week 'n baie suksesvolle skoonmaakaksie in die area van Kremetartlaan geloods. Verskeie besighede in die dorp het van hul gereedskap, tyd en mannekrag afgestaan om dié skoonmaakpoging van stapel te stuur.
Onder meer, het Rustenburg Munic gesorg vir hulp met finansies, Talisman met gebruik van 'n bossiekapper (brush cutter) en Deonak het bygedra met 'n skenking wat gehelp het om afvoerpype onder die spruit se bruggie skoon te maak, asook 'n privaatskenker wat vir addisionele arbeid gesorg het, en IW Mining wat vir die gebruik van 'n voertuig en ekstra "hande" verantwoordelik was.
AfriForum, wat gemeenskapsbetrokkheid hoog ag, het 'n trekker en grassnyer beskikbaar gestel wat die vergroeide bossies sommer vinnig die loef afgesteek het. Crazy Skips het 'n groot rommelbak geborg vir die dag en Engen het gesorg vir die nodige brandstof.
Dit was ook nie net besighede wat hand bygesit het nie, maar verskeie vroue van die gemeenskap het van hul tyd afgestaan oom heerlike toebroodjies te maak en te sorg vir 'n lafenis vir die keel in die warm son.
Die span wil almal bedank wat donasies gegee het, maar is dit eens dat die werk nog nie klaar is nie. Die vrywilligers sê daar is nog baie ure se werk wat voorlê en dat nog meer, gereelde arbeiders en skenkings benodig sal word. Die volgende skoonmaakaksie word geoormerk vir Sesbaniastraat en dan met verloop van tyd, dieper in die Dorpspruit af.
Kontak vir Claude vir donasies en verdere inligting op 060 742 9317.