Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Inwoners van die Platinastad word weer eens gewaarsku om uiters versigtig en op die uitkyk te wees vir boosdoeners wat besoekers aan die sogenaamde Little Margate-area (die Kruis bo-op “Arendskloof” ook bekend as Kruiskrans of “Rooikrans”) op gereelde basis terroriseer en/of aanval. Twee 18-jarige leerders van die Hoërskool Rustenburg het verlede Saterdag die slagoffers in die jongste aanval geword toe ‘n uitstappie wat vir ‘n baie spesiale en persoonlike “seremonie” beplan is, ietwat ontspoor het en in die spreekwoordelike nagmerrie ontaard het. 

Die paartjie het Saterdagmiddag omstreeks 17:00 gehoop om die Kgaswane Natuurreservaat te besoek, maar moes met hul aankoms verneem dat dit te laat is om besoekers in te laat omdat die reservaat se hekke om 18:00 sou sluit. Die teleurgestelde paartjie is daarna voordat die donker toesak na die nabygeleë Kruiskrans-area waarop hulle as ‘n alternatief besluit het.
Die twee se spesiale oomblik is egter spoedig na hul aankoms bederf toe hulle deur ‘n onbekende man wat met ‘n mes gewapen was, verras is. In wat vir die paartjie soos ure gevoel het, is die twee binne enkele minute nie net van hul horlosies nie, maar ook van die seun se selfoon beroof. In die proses waartydens ‘n stoeiery in ‘n stadium tussen die seun en die aanvaller ontstaan het, is die seun drie keer met die mes gesteek. 
Die paartjie kon oomblikke later hul aanvaller ontvlug maar nie voordat die man ook die bakkie waarin die twee na die Kruis gery het, se venster met ‘n klip uitgeslaan het nie. 
Hulle kon hul aanvaller egter afskud en het van die toneel weggejaag voordat hulle by onbekende mense in die pad naby die toneel stilgehou en vir hulp gevra het. 
Hulle is daarvandaan na die mense se huis waar noodbehandeling toegepas is en hulle gekalmeer is voordat die seun na die Medicare-hospitaal geneem is, waar hy behandeling vir drie steekwonde ontvang het - hy is onder meer in die arm, die lies en die sy/rug gesteek. Hy is intussen ontslaan en het oor die naweek en Maandag tuis aangesterk. 
Volgens die meisie se ma is die twee kinders erg getraumatiseer. Ouers, skole en gemeenskapsleiers is versoek om kinders as ‘n saak van dringendheid te waarsku dat die Kruiskrans-area asook verskeie ander areas soos die berugte Kwaggapan letterlik lewensgevaarlik is vanweë opportunistiese boosdoeners wat tussen die bosse skuil en ‘n lewe maak deur ongewapende besoekers van hul persoonlike besittings te beroof.