Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Pick n Pay stalletjiemark se eerste beskuitkoningin is aangewys.
Tuiskok Retha Pretorius het op Saterdag 25 Januarie met die louere weggestap met ‘n heerlike gesondheidsbeskuit wat die beoordelaars beindruk het. Die bekende beskuitbakker Tina Greyvenstein het net-net die knie gebuig en het die tweede én derde plek van die kompetisie ingepalm met ‘n tennisbeskuitjie-beskuit en ‘n romany cream-beskuit.
Die beoordelaars was die redaksiespan van Klerksdorp Rekord, en pastoor Arno Heunis. Dié trio het hul monde vol gehad met die 15 verskillende tipes beskuit wat hulle moes beoordeel. Die organiseerder van die stalletjiemark, Thinus van Staden, het die wenners aangekondig en geskenkbewyse aan die wenners uitgedeel.
Retha het die mark saam met haar man, Johan bygewoon en was verbaas oor die wen, maar vir Johan is sy vrou se beskuit die lekkerste in die land. Sy kan nie voorbly om te bak nie.
Tydens die mark is ook ‘n kolwyntjieversier kompetisie gehou wat baie gewild is onder die jongklomp.
Die wenners is Miane van der Linde (vier tot ses jaar), Johan Koekemoer (sewe tot nege jaar) en Scarlette Scherman (tien tot twaalf jaar). (Sien foto’s in die week se Midweek Rekord.)
Die volgende mark is op 1 Februarie en die Valentynsmark vind op 15 Februarie plaas.
Skakel Tinus by 083 294 8077 vir meer inligting en stalletjiebesprekings.