Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Interessante onderwerpe is by vanjaar se Klerksdorp Boekefees aangeraak - van totsiens sê vir die gedrukte koerant in die gesprek oor Beeld se gedenkboek tot die nalatenskap van die grensoorlog tot lekkerlees liefdesverhale wat jou tone laat krul van plesier.
Romanza skrywer Mariette Wenhold se charismatiese persoonlikheid het die gehoor om haar pinkie gedraai terwyl sy gesels het oor die ontvlugting van die alledaagse wat jy tussen die blaaie van ‘n boek kry. Netwerk 24 se kuns-en-vermaak-joernalis, AJ Opperman, het haar uitgevra oor die goedvoel-terapie wat jy in ‘n boek kry en Mariette het dit vergelyk met ‘n happie sjokolade wat sy onder ‘n gejuig aan gaste uitgedeel het.
Haar boek Bosnimf het uitverkoop tydens die fees. Dit was nie die enigste boek wat uitverkoop het nie, met Klerksdorpers, Stefaans Coetzee (Sel Ses) en Sandy Schoeman (Chakalaka uit ‘n blikkie) wat uitverkoop het. Die joernaliste De Wet Potgieter (Contraband), Deon Lamprecht (Bloedbroers), en TJ Strydom (Capitec - stryd met die grotes) se boeke het ook uitverkoop. Die boek oor Beeld se bestaan was ook ‘n topverkoper by die fees.
Behalwe vir die interessante gesprekke oor boeke, was daar ook musiek met Riku en Jakki Lätti en Bacchus Nel van Die Wasgoedlyn-faam wat opgetree het. ‘n Bonus vir al die gaste wat Vrydagaand 1 November saamgekuier het.
Die Leef Liefde toekenning is aan die skrywer-dominee Jaco Strydom oorhandig vir sy werk as leier van die Echo jeug-gemeenskap, ‘n organisasie wat hom beywer vir jong mense in nood.
Iets wat gewoonlik net vir Kapenaars beskore is, was ‘n bekendstelling van die 2024-uitgawe van Ons Kleintji zine. ‘n Aantal digters, onder andere Tom Dreyer en Toast Coetzer het gedigte voorgelees om die jaar se boekfees op ‘n hoë noot mee af te sluit.