Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Klerksdorp het ‘n held wat niemand van weet nie, verloor.
So beskryf Müsti Benade sy goeie vriend Dawid Lotter wat op 29 Oktober oorlede is. Lotter was 68 jaar oud. Die oorsaak van sy dood is waarskynlik hartversaking. Sy ma het hom dood aangetref agter sy lessenaar.
“Hy is een van Klerksdorp se bes bewaarde geheime. Dawid het verskeie boeke oor die grensoorlog en die oorlog in Angola geskryf, asook digbundels oor die onderwerp. Van sy digkuns is baie persoonlik, veral oor soldate se stryd met hul innerlike self. Sy skryfwerk is nie wyd bekend nie, maar sy vriende in die weermag is van sy grootste bewonderaars. Ek het van sy boeke se voorblaaie geïllustreer,” vertel Müsti.
Volgens Müsti was Dawid een van die mees intelligente mense wat hy geken het. Dawid het verskeie militêre kwalifikasies gehad, asook kwalifikasies in sielkunde en hy was ook ‘n pastoor en refleksioloog.
Elizma Grobler, ‘n vriendin en vertroueling van Dawid, het haar bewondering vir hom op ‘n private militêre groep so beskryf: “As ek kon oorvertel van die gevoel in my bors as oudsoldate oor jou gesels en jou menswees, sou ek in tale moes praat. “As ek in die sterre kon teken sou die hele wêreld jou deur my oë kon sien en die geskiedenis van sterretekens in ʼn oorlog slagveld verander. As ek vir ewig kon leef sou ek oneindige nageslagte leer om jou naam met respek en deernis te gebruik. As ek oorlog kon beplan en uitvoer soos jy, sou ek nooit ophou veg nie.”
Dawid laat sy broer en ma agter. Albei is nog in Klerksdorp woonagtig. Hy was nooit getroud nie.
Sy gedenkdiens vind op Vrydag 8 November in die Hervormde Kerk Doringkruin plaas. Dit sal ‘n semi-militêre begrafnis wees, met weermagveterane wat ‘n erewag sal staan.