Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die spogontwikkeling in Ianstraat neffens Klerksdorp Rekord en Arnorld & Wessels Design and Print is bykans voltooi.
Dié gebou huisves kantoorspasie, ‘n nuwe koffiekroeg asook ‘n onthaalarea geskik vir kunsuitstallings, onthale en ander vermaak. ‘n Nuwe gesig in Klerksdorp se koffiekultuur is Plato, ‘n gevestigde handelsmerk, wat voor die einde van die jaar sy intrek in die nuwe gebou neem.
Chris van Eeden is verlig dat die derde (en laaste) fase in die ontwikkeling wat hy bietjie meer as 10 jaar gelede hier op die hoek van Ian- en Scottstraat begin het, so te sê afgehandel is. Eers het hul familie-onderneming na dekades in die middestad hierheen verskuif, ‘n paar jaar later het Klerksdorp Rekord hier gebou en nou is die prentjie voltooi met ‘n gebou wat hy na verwys as The Hub. “Dit moet ‘n bymekaarkomplek wees… vir kreatiewes, vir sakemense, vir die gemeenskap,’’ beduie hy na die groen grasperk en kruietuin in wording terwyl daar nog in die agtergrond geskarrel word om die laaste installasies te doen.
Die gebou is basies ‘n uitbreiding van die Co-Worx kantoorspasie wat in 2019 in die hoofgebou begin is. “Die konsep vir professionele persone om ‘n klein kantoor te huur in plaas van om vanaf ‘n tuiskantoor te werk, is uiters gewild en dit was nodig om uit te brei,’’ verduidelik Chris. Al die nuwe kantoorspasie in die gebou is reeds opgeraap.
Die plaasdam wat hulle in 2013 op die oop erf gekry het toe daar met bouwerk aan die hoofgebou begin, is steeds op die erf en huisves nou ‘n indrukwekkende koi dam. Die vinke bou net so fluks nes soos die gebou verrys het. Die grasperk en nuut geplante inheemse bome nooi jou vir ‘n piekniek en Chris mymer oor ‘n kosmark soos die suksesvolle Koinonia Food Fest wat in 2022 op die perseel gehou is.
Hou hierdie spasie dop.