Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Inwoners van die Klerksdorp Tehuis vir Bejaardes het weer hoop.
Klerksdorp Rekord het hul basaar op Saterdag 26 Oktober besoek en ‘n groep positiewe mense aangetref wat saamstaan om hul tehuis te red én die inwoners lyk goed versorg en is gelukkig.
Die berig in Klerksdorp Rekord dat die tehuis dalk kan sluit, het ‘n skokgolf deur die tehuis gestuur asook deur die gemeenskap. Die reaksie op die nuus het ongekende ondersteuning te wee gebring en hul basaar was ‘n reuse sukses. Sowat R75 000 is ingesamel!
Volgens Elna Francke, bestuurder, staan die gemeenskap agter hulle en is hulle besig om hul finansies in orde te kry om ‘n soortgelyke bom in April volgende jaar te verhoed, indien die regering weer te laat is met hul subsidie.
Klerksdorp Rekord het verlede week berig dat die regering subsidie toe wel aan die outehuis toegeken het. Die subsidie is egter nie dieselfde as vorige jare nie. “Ons subsidie is gesny en ons verloor 15 beddens,” het Francke gesê. Sy het bygevoeg dat dit nie ‘n fiasko is nie en dat die tehuis sal voortgaan om sy goeie werk te doen.
Sy het ‘n beroep namens die tehuis gedoen op Klerksdorpers om ‘n “geskenk van tyd en liefde” te skenk. Dit behels om ‘n vriend of vriendin vir inwoners te wees, tyd daar te spandeer en na hul stories te luister.
Die tehuis soek vrywilligers, mense kan ‘n bejaarde borg teen R280 per dag, volwasse doeke skenk (R50 per bejaarde per dag), en die tehuis kort kantgordyne, breekware en eetgerei en toiletware is altyd nodig.