Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Aardklop se program is bekend en die kaartjieverkope is oop. Kaartjies word vanjaar deur Webtickets verkoop.
Die fees, wat vanjaar van 7-12 Oktober (Feesterrein 7-11 Oktober) plaasvind, het komedie, drama, tragikomedie, musiek in bykans elke denkbare genre van klassiek tot voetestamp, en vermaak vir die jonger geslag.
Daar is gesprekke, laatnagkuiers, kos te kus en te keur, tienertoneel, rondleidings en boeke vir Afrika. Daar is legendariese name, en nuwe name waarvan kennis geneem moet word.
Vanjaar se tema is #DieKunsVanFees, en dit is presies wat feesgangers te wagte kan wees: Feesvier wat tot ’n kunsvorm verhef is, soos net die span by Momentum Aardklop kan. Saam met natuurlik lojale gehore wat jaar ná jaar terugkeer - ’n mens kan amper sê hulle is ’n “KUNSTErnasie”.
“Dis die jaar van Momentum Aardklop 2025, die jaar van gróót KUNSskierigheid oor wat ons gaan aanvang en aanvuur!” sê Alexa Strachan, die feesdirekteur.
Wat kan jy verwag?
* Nataniël en Charl du Plessis is só KUNSdriftig en bring NATANIËL + CHARL: 25. Dis ook die jaar waartydens die fees gepas hulde bring aan van Suid-Afrika se grootste dramaturge en digters. Athol Fugard is in Maart in die ouderdom van 92 oorlede. Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en die universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Met Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Wiseman Sithole. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op.
* Die geliefde Breyten Breytenbach word gevier in ’n musiekteaterdebuut, Belofte van vere. Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa. Dit is ’n intieme blik op die verhouding tussen ’n pa en dogter, te midde van al die verwikkeldheid rondom sy wêreldwye roem, berugtheid, aktivisme en taaldebatte. Met onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert, David Klassen, Leon Gropp en Laurinda Hofmeyr. Anna Davel is die artistieke regisseur, met spelleiding deur Philip Rademeyer.
* Soos altyd is daar ook allerlei nuwighede, soos Charl du Plessis se Surf & turf, ’n vergrote aanbod vir kinders, vanaf meer kinderteater tot die LAPA-LEKKERlees-minuut by die kinder-area op die feesterrein.
* En dan moet mens seker die minder geesdriftige (manlike?) kunstefeesganger ook naderhark. Sien uit na nuwe motorsportgesprekke met onder andere Voetspore se Johan Badenhorst en renjaer Paige Lindenberg (wat sommer die opvattings oor vrouens se bedenklike bestuursvermoë verkeerd bewys).
* Op die feesterrein is daar ook kunstenaars wat optree soos: Elandré, Die Heuwels Fantasties, Bernice West, Prime Circle en Die Piesangskille. Ricus Nel kom deel ’n hardekool, so laat die feesvure hoog brand! En onthou: wees liefs ’n Early B, en koop jou kaartjies gou.