Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dr Tinus Maartens is onverwags vandeesweek oorlede.
Dr Maartens het bykans veertig jaar as mediese dokter gepraktiseer en was geliefd onder sy pasiënte.
Hy het op Sondag 8 Junie sy 78ste verjaardag saam met familie gevier wat hom vir ete uitgeneem het. Hy is die volgende dag skielik by sy huis oorlede.
Volgens sy dogter, Lize Maartens, het haar pa onlangs longontsteking onder lede gehad, maar het herstel. “My ouers was by die huis. My ma was net gou uit die slaapkamer en toe sy terugkeer, was hy reeds weg,” sê sy.
Dr Maartens was bekend as ‘n dokter met vaste beginsels. Sy sienings oor die lewe en politiek is nie deur almal gesteun nie. Hy het dit egter aan sy drie kinders oorgedra: Lize, ‘n broer, Paul, en nog ‘n suster, Belinda Kazeni.
“Ons as kinders het nie met al sy sienings saamgestem nie en ons het baie gestry en geredeneer daaroor. Nou gaan ons dit mis,” sê Lize.
Dr Maartens het by Tukkies studeer en het na sy studies in 1972 in Klerksdorp as dokter begin werk. Hy het die tuig in 2009 neergelê.
Sy begrafnisdiens vind om 13:00 op Saterdag 14 Junie uit die Afrikaanse Protestantse Kerk in Ianstraat, Flimieda plaas.