Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dink aan Vyfster vir die radio.
Dit is hoe die skrywers van Die Laaste Ontsnapping, die RSG radiodrama wat Donderdagaand 19 Junie op die lug uitgesaai word, die drama vinnig beskryf.
Stefaans Coetzee en Annerle Barnard wil luisteraars ‘n blik in die onbekende wêreld agter tralies gee. Erken dit maar, meeste mense het ‘n morbiede fassinasie met die tronk. Die tronk is egter meer as geweld, seks en dwelms. Daarom het die skrywers besluit om ’n mense storie te vertel.
Lupin, ’n gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy is telkens weer terug agter tralies. Maar hy wil nie in die tronk sterf nie en is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn, karakter in Sel Ses (Stefaans se boek), om hom dood te steek.
Roux weier, hy is immers ’n bendelid en dwelmsmous; en geen hit man nie. Hy besluit om eerder vir Lupin te help ontsnap. Maar in die tronk is baie ore en ‘n gevangene kry tot twee jaar van sy vonnis af as hy ’n ontsnapping rapporteer. Die spanning laai op… gaan Lupin daarin slaag om te ontsnap, of gaan Roux sy vriend doodsteek?
Stefaans vertel: “’n Korrektiewe fasiliteit is ’n ander wêreld. Dit kan nie met die gewone, alledaagse lewe vergelyk word nie. Elke gevangene leef in sy of haar eie wêreld met ’n unieke realiteit. Dit moet nie ’n verrassing wees om ’n opgespeelde klavier of ’n ketel in ’n slaapsaal op te merk nie. Luukshede word bekom deur fyn beplande besoeke en gunsies in ruil vir iets.’’
Die laaste ontsnapping is losweg gebaseer op die lewens van werklike karakters. Dit gee ’n blik op oomblikke aan die binnekant wat andersins vir diegene aan die buitekant onrealisties en verregaande sou wees. Sonder om te veel te verklap, ontbloot die storie leefstyle, ontsnappingstegnieke, aktiwiteite vir ontspanning en die intrige van verhoudings om persoonlike doelwitte te bereik. Die tragedie lê in die tweestryd tussen binne en buite. Hoe gemaak as jy uit is? As jy nie meer gewoond is aan dit wat buite is nie, bly daar net ’n paar opsies oor.
Die laaste ontsnapping deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard word opgevoer deur André Odendaal, JJ Roberts, Phillru van Achterberg, Donoven Pietersen, Mortimer Williams en Cassius Davids. Eddie de Jager het die regie behartig.
Skakel in om 20:00 op RSG of luister op potgooi na afloop van die uitsending.