Klerksdorp Record, Klerksdorp - Die geld wat die afgelope tien maande vir Petro van Zyl met skarebefondsing ingesamel word, is broodnodig om ‘n dak oor haar kop te verseker.
Petro se dogter, Altea van Zyl, het verlede jaar ‘n profiel op Back-a-Buddy oopgemaak om fondse te genereer om vir haar ma se verblyf in die Justice Otto sorgoord op Stilfontein te betaal. Dit is nadat haar ma se lewensmaat, Jannie du Rand, skielik oorlede is en sy sonder ‘n heenkome en met ‘n erge skuldlas agtergelaat is. Dit was al uitweg vir die familie nadat Petro ook met Huntingtons se siekte gediagnoseer is wat beteken het dat sy versorging nodig het. Dit is ‘n seldsame genetiese afwyking wat onbeheerde beweging, kognitiewe inkorting en emosionele probleme veroorsaak.
“Ons as familie kan dit nie bekostig om al haar uitgawes te dek met die karige pensioen wat sy kry nie. Ten spyte van alles wat ons maandeliks bydrae kort ons ten minste R5 000 elke maand om haar verblyf in die oord te betaal,’’ sê Altea.
Sy woon self in ‘n eenslaapkamerwoonstel ‘n duisend kilometer van Klerksdorp en kan haar ma nie soontoe laat verhuis aangesien sy voltydse versorging nodig het. “Sy kan nie self bad of vir haar self kos maak nie. Die siekte het haar ook erg depressief en sy ervaar erge uitbarstings. Ons is baie dankbaar vir almal se bydrae tot my ma se verblyf. Dit word uit ons harte waardeer.’’
Enige iemand wat ‘n bydrae wil lewer, kan op die Back-a-Buddy bladsy gaan soek na ‘Sponsor for Petro’ om meer inligting te bekom.