Klerksdorp Rekord, Stilfontein - ‘n Passie vir kinders, die Afrikaanse taal en die natuur het ‘n Stilfonteinse skrywer geïnspireer om ‘n kinderboek te skryf.
‘Deurmekaarbos se Sonstraaltjie’ het kleintyd-drome van Deserise Cocklin-Viljoen bewaarheid.
Sy onthou hoe sy as klein dogtertjie al ‘n liefde vir lees ontwikkel het, en nou met haar eerste kinderboek wil sy ook kinders aanmoedig om te lees en nuwe Afrikaanse woorde te leer.
Deserise het die boek geskryf met die doel om kinders op ‘n prettige manier aan ou, interessante Afrikaanse woorde bekend te stel. Sy sê dit is ‘n wonderlike geleentheid vir leergieriges om meer navorsing oor verskillende kruie en Afrikaanse woorde te doen terwyl hulle lees. “Ek dink die woordgebruik in die boek is wat dit van ander kinderverhale sal onderskei, want woorde soos pieringbessie byvoorbeeld is nie ‘n woord wat jy alledaags hoor nie,’’ gesels sy.
Die boek is gerig op laerskoolkinders, maar is ook perfek om vir kleuters voor te lees en dit neem jou op ‘n avontuur deur Deurmekaarbos. Dit bevat sewe leersame verhale met die mooiste illustrasies oor 72 bladsye wat beslis kinders se nuuskierigheid sal prikkel.
Sonstraaltjie is Deurmekaarbos se feeprinses en al die diere vra altyd vir haar raad. In die boek ontmoet jy vir Sonstraaltjie en haar tweelingkaboutermaats, Anoster en Anys, en gaan hulle op onvergeetlike avonture in Deurmekaarbos. Daar is ook die slim Kerwel Uil, die pligsgetroue Balderjan Hamster, die wyse Laloentjie Elf, en die kruiedokter Kaberoe Kabouter, saam met nog vele ander kleurryke karakters.
Die boek word in samewerking met Ns. Skrywershuis uitgegee.
Deserise het in Zeerust grootgeword en het voorheen onderwys gegee. Sy werk deesdae voltyds van die huis af as teksredigeerder.
Sy het ‘n seuntjie en nodeloos om te sê is hy haar grootste bewonderaar. Haar volgende pennevrug is ‘n boek gemik op jong volwassenes, verklap sy, maar vir eers is haar fokus op die bemarking van Deurmekaarbos.
Sy nooi skole, en kleuterskole om haar te kontak vir voorlesings, sy sal julle graag besoek. Skakel haar by 078 320 3459 om ‘n eksemplaar van die boek te bestel.