Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die stad se museum bied gereelde gesprekke aan oor insiggewende onderwerpe en die wat dit bywoon, loop meer ingelig daaruit.
Die diskoers die afgelope naweek (28 Oktober) het gehandel oor Afrikaner-leiers en hul Nazi-bande.
Ja, jy het reg gelees. Afrikaner-leiers het sterk bande met die Nazis gehad en Suid-Afrika het ‘n Nazi party voor die Tweede Wêreldoorlog gehad. HF Verwoerd was glo lid van die Nazi Party op universiteit.
Historikus Johan Wolfaardt van die Potchefstroom Museum het die diskoers gelei en ook oor die Ossewabrandwag, Rapportryers en AWB gepraat. Bokskampioen Robey Leibbrandt se verhaal is welbekend. Hy was ‘n stoere Nazi en het sy seun Izan gedoop. (Nazi omgedraai).
Wolfaardt het ook vertel van Nazis wat hulle in SA kom vestig het na die oorlog!
So baie mense sê hulle steur hulle nie aan geskiedenis nie. As hulle weet wat gebeur het, sal hulle hopelik nie dieselfde foute maak nie.
Van die museum se vorige onderwerpe was oor die oorlog in Oekraïne net na die oorlog uitgebreek het, ‘n gesprek oor of dié oorlog kon verhoed gewees het, en waarhede en leuens in die geskiedenis en die Boere-oorlog.
Volgens Bert Gaffen, historikus by die Klerksdorp museum, is die volgende diskoers eers weer in 2024.
Hou Klerksdorp Rekord dop vir datums en onderwerpe. Meer inligting is beskikbaar van die museum by 018 487 8900.