Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - ‘n Klerksdorper wat diep spore op netbalbane regoor die land gelaat het, is aangewys as die Hoër Volkskool se Direkteur van Netbal.
Lizelle Erasmus beoog om Volkies se netbal na nuwe hoogtes te neem. Sy is passievol oor netbal en mik daarna om Volkies die beste in die land te maak. “Ons weet dit gaan nie oornag gebeur nie, maar dis beslis die droom,” sê sy.
Sy is ‘n vlak 3 geakkrediteerde afrigter, ‘n provinsiale afrigter ontwikkelaar, dien op die dr Kenneth Kaunda-streek en Noordwes Netbal se rade en was in 2022-2023 die Varsity Sports tegniese bestuurder.
Sy is nie net in die raadsaal besig om netbal te bevorder nie, maar ook op die baan as afrigter. “Ek het al ses spanne na nasionale kampioenskappe gelei, waar ons al ses keer met medaljes weggestap het,” sê Lizelle. Dié spanne was provinsiale en distrikspanne wat o/19 en o/21 spanne ingesluit het.
“Ek voel party dae nog bietjie ‘is this true?’ Ek is net Lizelle. Hoe het dit gebeur? Ek weet hierdie reis is een wat die Vader oor besluit het. Elke netbalmeisie moet voel sy hoort hier, ongeag watter span sy speel.
“Ek droom oor goed afgeronde, gedissiplineerde meisies wat hul plek vol staan in elke wedstryd, op akademiese en sosiale vlak. Ek is opgewonde en so ongelooflik trots om by die Volkiespan aan te sluit.”
Vir haar is netbal meer as net ‘n sport, dit leer lewensvaardighede. Iets wat Lizelle met behulp van die sport wil nastreef. “Die spel leer ons spanwerk, besluitneming, doelgerigtheid, menseverhoudings en wys absolute ‘grit’,” verduidelik sy.
Volkskool is besig om ‘n nuwe blaadjie om te slaan wat sportfasiliteite by die skool betref en het reeds begin om die netbalbane op te gradeer.