Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

deur Waldie Volschenk

Klerksdorp Rekord, Rustenburg -  ‘n Afrikaanssprekende boer van Groot-Marico het die land aan die praat en verbaasde Tswanasprekende gemeenskappe aan die luíster met die gemak waarmee hy die afgelope twee dekades al sokker- en rugbykommentaar in Tswana oor die SAUK se radio- en tv-senders laat eggo. Noudat die 2023 Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk in volle swang is, het Reinier se Tswanakommentaar egter in ‘n sensasie ontaard.

Reinier Swart is ‘n man wat soos hy dit stel “Tswana kon praat voordat hy sy eie Moedertaal magtig was. “Dit was swaarkryjare, my ma moes kort na my geboorte uitspring om te gaan werk en ek is dikwels in die sorg van werkers en -vroue op die plaas agtergelaat terwyl my pa met die boerdery besig was. Ek is in ‘n stadium (darem nog voorskools) selfs saam met my Tswana-maatjies skool toe waar my gemak met die Tswanataal nog verder gelouter is.” 

Reinier onthou hoe hy op skool baie slae gekry het omdat die Afrikaans vir baie maande maar net nie so gemaklik soos die Tswana uit die boeremond wou opklink nie, “maar dit was darem nie te lank voordat ek ‘n gevoel vir my “tweede” taal gekry het nie,” skerts hy.

Vandag pluk hy egter die vrugte van die gawe wat hy het om ‘n Afrikataal so goed te kan praat. Selfs swartmense wat vir jare sy enigste luisteraars was met sokkerkommentaar, het nie eers geweet dat dit ‘n witman is wat die tong so lekker in Tswana kon laat klap nie. Maar met die Wêreldbeker-rugbytoernooi nou in die uitspeelfases het Reinier se lang en uitgerekte uitsaailoopbaan van digby die 44 jaar by die SAUK nuwe hoogtes bereik - soveel so dat hy tydens die duur van die toernooi vir Motsweding FM radio- en vir ander stasies soms tv-kommentaar oor belangrike wedstryde in die toernooi lewer.

Maar dit was nie net vir agter die mikrofoon inskuif en praat dat die spoeg spat nie. Nee, Reinier se paadjie by die SAUK het ‘n lang en kronkelrige rigting ingeslaan en hy het letterlik omtrent “alles” by die nasionale uitsaaier gedoen. Hy het begin as tegniese man - of bedryfsman soos mense in dié beroep die term ken. Daarna het hy betrokke geraak by sport en aktualiteit en in die tagtigerjare het hy selfs taamlik ver en hoog in meer as een bestuurshoedanigheid gevorder. Hy was ook dikwels vir die opleiding van nuwe personeel en kollegas verantwoordelik.

Maar tog was die fisiese betrokkenheid by uitsaai en verslaggewing die ding wat hom die naaste aan die hart lê omdat ‘n mens as’t ware “in tale spreek” en met ‘n onbeperkte gehoor kommunikeer.

In die jare toe burokratiese rompslomp by die nasionale uitsaaier hoogty gevier het, was dit natuurlik ongehoord dat ‘n witman vir ‘n swart radiostasie sou uitsaai, net so was dit later vir swart gemeenskappe nie noodwendig die mees gewenste stap dat ‘n witman sy lyf Tswanakommentator gehou het nie.

Om hierby verby te kom het een van Reinier se destydse programhoofde skelmpies voorgestel dat Reinier vir hom ‘n goeie skuilnaam moes kry, want oor die Tswana-eter sou “Reinier Swart” nie te lekker oorkom nie. En dan die kostelike formulering en betekenis van die naam wat so mooi op die oor val - omdat hy ‘n klein kannetjie was en sy pa daardie jare met skape/bokke geboer het, het Reinier die naam Rampotjane Montsho (klein swart rammetjie) gekry - probleem opgelos en met sy verstommende behendigheid in Tswana was daar in elk geval nie die geringste kans dat sommige Tswana-luisteraars of enige van die SAUK-base die kloutjie by die oor sou kry nie.

“Maar sjoe, waar kry ‘n mens rugbywoorde en -begrippe wat vir Tswana-sprekendes kon vertel wat op die veld aangaan? Baie van dié mense het tot onlangs nog eintlik niks van die spel geweet nie, hoewel transformasie in sport baie daartoe bygedra het dat duisende Tswanas vandag nie ‘n kans sou laat verbyglip om voor die radio stelling in te neem as daar rugby gespeel word nie.’’

Tswana is ‘n geweldig beskrywende taal daarom dat Reinier in samewerking met hoofde en taalkundiges om ‘n tafel moes gaan sit om as’t ware gedaante in Tswana-rugby te blaas. Vandaar “eie woorde” vir verskillende fasette van die spel. Soos onder meer die skrum - die Tswanaterm is “Lesakana la nkope” (die manne maak ‘n klein kraaltjie en sak op hulle knieë [‘n mens gaan op jou knieë as jy die Vader iets vra] en hulle “vra” vir die bal. Dan ook die aanslaan - die woord is “Kgopo! o dinala di metsi” - wat beteken die speler kan nie die bal vang nie - sy naels is nat.”

Tydens ons onderhoud met Reinier verlede week het ons nie veel moeite gedoen om by hom te verneem wat die Tswanaterm vir “die Bokke verloor” is nie. Voorlopig het ons gehoop dit sal nooit nodig wees dat Reinier en die taalkundiges weer om daardie tafel hoef te gaan sit nie - begrippe soos vreugdevure, bottels met bruisende vonkelwyn en Springbokke wat oor ‘n reënboog (of die maan?) spring, is egter volop in Reinier se Tswana-woordeskat - mag hy tydens vanjaar se toernooi genoodsaak wees om dit tot vervelens toe te gebruik!

l Die artikel het die eerste keer in Rustenburg Herald, ons susterskoerant verskyn.

Kyk op ons Facebook-blad vir ‘n video van hoe Reinier rugby uitsaai in Tswana.