Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Matlosana Sakekamer het tydens die algemene jaarvergadering ‘n nuwe bestuur verkies.
Advokaat Neil Strydom is as voorsitter gekies met Johan Oosthuizen wat in die adjunkstoel sit. Gerda le Roux van PSG Klerksdorp, Pieter Booysen van Motorland en Shereen Senxezi van De Kocks Ing is as addisionele lede gekies.
Oosthuizen het in sy voorsittersverslag ondermeer gesê die sakekamer gaan aanhou om druk op die plaaslike regering te plaas om vrae te beantwoord oor kwessies van besigheidsbelang, soos onder andere: die infrastruktuur-, dienslewering-, en rekening sisteemprobleme, ‘n onbefondsde-begroting, bywette wat foutief is, maar ook nie toegepas word nie.
Hy het verder genoem dat die sakekamer die NOVA-Matlosana-In-Aksie NPO bystaan in die hofsaak tussen Midvaal Water Maatskappy en die stadsraad om te verhoed dat “beurtwater” toegepas word as gevolg van wanbetaling deur die stadsraad.
Nadat die voorsittersverslag voorgelê is, het ‘n plaaslike advokaat die 60 gaste toegespreek oor die proses rondom munisipale waardasies wat elke vier jaar moet plaasvind.
Hy het die verskil tussen die munisipale-eiendomswaardasie as die een basis vir die betaling van erfbelasting en die munisipale beleid oor die faktor (rate-ratio) per eiendoms-kategorie wat gebruik word om die bedrag belasting te bepaal, uitgewys en verduidelik watter proses gevolg kan word om sodanige waarde aan te veg.
Die gesprek het verder hoofsaaklik gehandel oor die pligte van die waardeerder wat deur die munisipaliteit aangestel word om die waardasies saam te stel en die regte en verpligtinge van die eienaar/belastingbetaler.
Klem is gelê op die feit dat geen eienaar die waardasie op appèl na die Waardasie-Appèl-Raad kan neem nie, tensy ‘n beswaar binne die vasgestelde tydperk by die munisipaliteit geliasseer word nie.
Faktore wat die waardasie bepaling kan beïnvloed is uitgewys en kortliks bespreek.