Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - KHS se matriekklas van 1960 het nog noue bande met mekaar en het vroeër die maand in Potchefstroom bymekaargekom vir ‘n reünie.
Die 13 oud-leerlinge het saam met hul gades die geselligheid bygewoon en ‘n heildronk ingestel op ‘n lewenslange vriendskap. Hulle was 65 jaar gelede in matriek.
Nelly van der Spoel, ‘n Seevinck nooi in matriek, haar man, Rudy en Piet Basson, hoofseun daardie jaar, het die byeenkoms gereël. Die groep het die laaste 15 jaar gereeld saam gekuier nadat hulle in 2010 tydens hulle 50 jaar reünie by die skool, mekaar weer “herontdek’’ het.
In 2020 het hulle die 60 jaar reünie ‘n hele drie dae lank gevier en verlede jaar weer so gemaak.
Die groep probeer so ver moontlik in kontak bly met mekaar en kuier gereeld saam op verskeie plekke in die land.
“Ons is na 65 jaar in matriek steeds ‘n hegte vriendekring en is trots op ons Alma Mater KHS vir die onderrig, dissipline, omgee en samesyn wat ons daar geleer is. Baie dankie ook aan al ons gades wat ‘n natuurlike manier deel van die groep geword het. Wat ‘n voorreg en genade,’’ het Nelly gesê.