Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die NTT Motorgroep het Cargo Motors in die stad reeds vyf maande gelede oorgeneem en die nuwe handelaarshoof het op 1 Februarie by die handelaar ingestap.
Volgens Martin Viljoen is hy na Klerksdorp gestuur om die handelaar te bestuur en beplan hy om nuwe energie te bring na die motorhandelaar wat Mercedes-Benz, Hyundai en Kia verkoop. Viljoen is oorspronklik van Tzaneen en het op dié dorp as ‘n verkoopsman by NTT begin. Hy is in 2008 na Heidelberg oorgeplaas waar hy as handelaarshoof gewerk het en nou is hy die man agter die stuur in Klerksdorp.
Sy entoesiasme en positiwiteit is tasbaar as hy vertel dat toe hy by die handelaar langs die N12 ingestap het, hy baie negatiewe stories van ontevrede kliënte gehoor het.
“Dit moet dadelik verander. Ek glo in uitstaande diens en ‘n kliënt moet hier uitry met ‘n glimlag op sy gesig, want hy moet vir ander vertel hoe gelukkig hy is,” vertel hy.
Hy beplan om sy visie aan die personeel oor te dra en glo sterk in bemarking. Met Klerksdorp Rekord se besoek is nuwe baniere van NTT langs die N12 geïnstalleer. Volgens hom is hy reg vir die uitdaging om die plaaslike handelaar weer deel van die gemeenskap te maak en kyk hy om by plaaslike skole en sport-organisasies betrokke te raak.
“Potchefstroom is ook ‘n onontginde juweel, want nie een van die drie vervaardigers wat ek verteenwoordig is in Potchefstroom teenwoordig nie,” sê hy.
“My vrou, Mariska, werk ook by NTT op Heidelberg en ek woon tans in ‘n gastehuis, maar oorweeg al klaar om hierheen te trek. My twee dogters studeer ook in Potch.”