Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Nuwe kar is ‘n aanwins vir enigeen, As hy gratis is, is dit ‘n gawe van Bo.
So beskryf Louisa van Tonder van Klerksdorp haar gelukskoot nadat sy verlede naweek ‘n bloedrooi Suzuki Jimny ryker geword het. Die nuwe motor is op Saterdag 22 Februarie by Flimieda Spar aan haar oorhandig. Coca-Cola en Spar het ‘n kompetisie aangebied waar vyf van die motors op die spel was. Een so ‘n motor kos R429 000.
Sy het van oor tot oor geglimlag terwyl sy aan Klerksdorp Rekord vertel het dat sy in Desember gehoor het sy is ‘n finalis en so twee weke gelede het sy ‘n oproep gekry dat sy gewen het. “Ek moes dit stil hou en kon nie eens my ma vertel nie,” sê sy.
Volgens haar het sy die laaste paar maande Coke gedrink asof dit water is en by al die Spar-winkels gekoop en ingeskryf.
“Ek kan nie eens onthou hoeveel inskrywings ek ingestuur het nie, maar dit is honderde. Dit is ‘n bewys dat mense kompetisies kan wen as hulle net inskryf,” het sy gesê.
Vir die oorhandiging die afgelope naweek het sy van haar huis naby Hoërskool Wesvalia na die Spar in Flimieda geloop, want sy moes die nuwe kar huis toe ry.
“Daar is egter ook ‘n ander rede waarom ek geloop het. My huidige kar moet herstel word en ek moet ‘n stywe bedrag daarvoor betaal. So die nuwe kar is net ‘n blessing,” het sy gesê.