Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Gaste by die Klerksdorp Boekefees was verras met die verskyning van die jong operaster Amira Willighagen by die fees.
Amira was daar om die Zenobia #leef-liefde-prys te ontvang wat jaarliks op die boekefees in die stad aan iemand toegeken word wat ‘n verskil in hul gemeenskap maak. As ‘n kersie op die koek het sy die hele gehoor genooi om saam met haar Nkosi Sikelel’ iafrika te sing. ‘n Hoendervleis oomblik vir almal teenwoordig en ‘n gepaste manier om die boekefees op Saterdag 4 November af te gesluit het.
Die Nederlandse sangeres het op negejarige ouderdom die televisie-talentkompetisie Holland’s Got Talent gewen. Sy woon nou in Potchefstroom en het die stigting Gelukskinders begin waarmee speelparke vir kinders in minderbevoorregte gemeenskappe opgerig word. “Dis eintlik ‘n kind se werk om te speel. Ek dink veral ‘n mooi land soos Suid-Afrika moet dit vir ‘n kind vanselfsprekend wees om te speel. Dis nie ‘n luukse nie, dis noodsaaklik,’’ het sy gesê.
Stefaans Coetzee het die toekenning aan haar oorhandig en het ook vir Zenobia Moses wat die inspirasie daar agter was, aan die gehoor voorgestel.
Klerksdorp Rekord het in Mei 2018 berig oor Zenobia wat ’n bejaarde omie op ’n taxi tussen ’n klomp vreemde mense bygestaan het. Haar verhaal van liefde, omgee en gebed het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dié storie het Stefaans so aangegryp dat hy later vriende met Zenobia geword het, en besluit het om ‘n eerbewys namens sy #leefliefde-stigting na haar te vernoem.
Vorige ontvangers van die eerbewys sluit in Barend la Grange, bedryfshoof van die Privilege Foundation, Leilani Kuter van Yellow for Survivors, en Schalk van Heerden van Betereinders.
Dit was vir Amira ‘n groot eer om die toekenning te ontvang en sy het gesê dit sal haar help vir blootstelling aan haar stigting. “So kan ek meer helpende hande kry wat bereid is om te help. Ek dink dit is ons wat in ‘n bevoorregte posisie is, se verantwoordelikheid om, ook as Christene, ons medemens wat minderbevoorreg is, te help. So baie, baie dankie.’’
Haar stigting het tot op hede 22 speelparke opgerig.
* Kyk op Klerksdorp Rekord se Facebook-blad as jy ‘n video van die geleentheid wil sien.