Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Foster-tweeling van Hoërskool Wesvalia het dieselfde droom: hulle wil dokters word. Die twee slimkoppe deel ‘n verjaardag met wyle Nelson Mandela.
Albei is op pad Stellenbosch toe - Rohan is gekeur vir medies en Lineigh is op die waglys vir medies. Hul rede vir medies is dieselfde: “Ons is lief vir mense en wil mense help.”
Rohan is die topmatrikulant in Matlosana en staan tweede in die provinsie. Hy het nege onderskeidings met Apha Wiskunde en Inligtingstegnologie as ekstra vakke. Hy het ‘n brein vir wiskunde, want hy het 97% gekry en hy sê ook dit is sy gunstelingvak. Hy is die skool se duxleerling.
Liniegh het vyf A’s behaal, onder meer ‘n A in Drama en haar gunstelingvak was wiskunde. Volgens haar was dit omdat sy so baie van die onderwyser gehou het. Sy hou nie van fisiese wetenskappe nie en sê die fisika het haar gepootjie.
Albei het leierskapposisies beklee: Rohan was onderhoofseun: akademie, en Lineigh was verantwoordelik vir leerdersake op die VLR.
Rohan se stokperdies is atletiek, fotografie en kook en sy sussie is ‘n avontuurvraat waar sy - volgens haar - alles en nog wat wil doen. Rohan sien homself oor tien jaar in ‘n hangmat in ‘n vrugteboord en sy sussie sien haarself as ‘n dokter in ‘n kinderpraktyk, getroud met ‘n wynboer en as ‘n ma.
Dié slimkoppe het groot drome. Mag al hul drome waar word.










