Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - As Deniëllyn von Wielligh ‘n projek aanpak, gaan sy voluit om daarvan ‘n sukses te maak.
Haar hele skoolloopbaan spreek daarvan. Dié doelgerigte blondekop het ses onderskeidings in die afgelope matriekeksamen behaal. Sy is KHS se top matrikulant van 2025.
As hoofmeisie en eerstespan netbalkaptein het sy diep spore by die skool getrap en sê sy sal altyd met heimwee terugdink aan haar skooldae. “Veral die atletiekdae waar ons ons longe uitgeskree het vir die skool,’’ lag sy.
Vir iemand met ‘n kop vir Wiskunde en dit geniet om met syfers te werk, is mens verbaas om te hoor haar gunsteling vak was Afrikaans. “Ek is lief vir die taal en letterkunde en het die kreatiewe skryfwerk besonders geniet.’’ Verstaanbaar as jy hoor haar tannie is Salomé Kotzé, redakteur van Klerksdorp Rekord.
Deniëllyn gaan Aktuariële Wetenskap aan die NWU in Potchefstroom studeer en betree dan ‘n nuwe fase in haar lewe, as koshuisbrak. Sy word ‘n inwoner van Vergeet-My-Nie Dameskoshuis en is druk besig om voorbereidings te tref vir die groot trek.
Haar raad aan 2026 se matrieks? “Begin vroeg in die jaar en werk konsekwent hard. Moenie uitstel nie, elke dag tel. Bly gefokus en onthou dat opoffering op die lang termyn beloon word.’’
Dit het haar gehelp om ‘n studieprogram op te stel en nie agter te raak met huiswerk nie. “Vra vrae as jy werk nie verstaan nie. Onthou, dissipline en deursettingsvermoë maak ‘n groot verskil.’’










