Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Senwes het ‘n nuwe hoof- uitvoerende beampte en sy neem die leisels op 1 April oor.
Debbie Bester (39) maak geskiedenis deur die eerste vrou te wees wat in hierdie rol in die maatskappy en die sektor dien. Bester is as die nuwe HUB aangestel nadat Francois Strydom sy aftrede aangekondig het.
“Die direksie het ‘n eenparige besluit oor die aanstelling van haar geneem ná ‘n uitgebreide onafhanklike opvolg- en werwingsproses wat oor meer as 7 maande strek,” het Danie Minnaar, Senwes-voorsitter, in reaksie op die aankondiging gesê. Hy het Strydom intussen bedank vir die tyd waarin hy die HUB was en met die uitstekende groei en suksesse wat die groep tydens sy veertien jaar ampstermyn behaal het.
Strydom se suksesvolle loopbaan het in 2001 begin waar hy aanvanklik die bestuur en uittrede van sekere besighede in die groep hanteer het. In Junie 2002 is hy be-vorder tot Bedryfshoof voordat hy die HUB in Augustus 2010 geword het. Gedurende hierdie tyd het die groep een van die grootste landboumaatskappye in Suid-Afrika geword met sake-eenhede regdeur sewe van die nege provinsies en ‘n John Deere-landboutoerustingbesigheid in Duitsland.
Bester is in die Vrystaat gebore en getoë en het haar loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester by PWC begin. Sy is toe deur die Suidwes Groep aangestel, waar sy bevorder is tot Groep Finansiële Bestuurder en daarna in Julie 2019 as finansiële hoof. Na die samesmelting tussen Suidwes en Senwes in Oktober 2020 het sy die pos van Finansiële Direkteur by Hinterland beklee en is toe aangestel as uitvoerende bestuurder: Groepverslagdoening en Korporatiewe Finansies in Julie 2021. Daarna het sy opgetree as die hoof finansiële beampte van Senwes vir ‘n tussentydse tydperk voordat sy bevorder is tot uitvoerende bestuur: Korporatiewe Finansies en Besigheidsingenieurswese in 2023. In hierdie rol het sy vir ‘n tydperk van twee jaar op groeitransaksies en verbeterings van besigheidsprosesse gefokus waar sy waardevolle ondervinding opgedoen het om die operasionele verwikkeldheid van die hoogs diverse groep.
Strydom sal beskikbaar wees tot 31 Julie om ‘n gladde oorgang en oorhandiging van die leierskap te verseker.