Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - “Vandag sny ek jou keel af.”

Dit is wat een van agt skelms verlede week vir Ralph Nel, platejoggie by Oelies, gesê het toe hulle hom en sy ma aangeval het. Dit het op Donderdag 30 Januarie by die Klerksdorp Terminus gebeur net toe hy in sy kar wou klim.

Hy vertel sy ma (74) wou materiaal by ‘n winkel daar gaan koop. “Hulle was agt - vier by die bestuurderskant en die ander vier by die passassierskant. Hulle het ons so geslaan en een het vir my gesê hy gaan vandag my keel afsny. 

“My ma se handsak is stukkend geskeur want sy wou dit nie vir die skelms gee nie. Dit kan mos nie so aangaan nie. Dit was net agter die polisiestasie en daar was polisiemanne wat daar rondgestaan het en niemand het iets gedoen nie.”

Ralph wil weet wanneer gaan iets aan die misdaad gedoen word, want die sakekern is ‘n no go area. Hy sê mense is net nie meer veilig daar nie. “My foon is weg, maar dit gaan nie oor die foon nie. Dit gaan oor menselewens.  Ons kon dood gewees het. Een het ‘n vuurwapen gehad. Hy kon ons geskiet het!”

Melanie Nel, die eienaar van Oelies, se seun, Craig, is twee dae vroeër (28 Januarie) voor die Departement Binnelandse Sake aangerand en sy selfoon is gevat.

Sy vertel: “Craig het vir my vertel hy het sy nuwe ID gaan haal en hulle het ‘n mes teen sy keel gedruk. Dit was helder oordag, Hy het sy karsleutels in sy broek gesit, want hy was bang hulle vat sy kar. Hy is rondgeruk en sy selfoon is gevat. Hy is nie erg beseer nie, maar sulke goed mag nie gebeur nie.”

“Ek ken die twee mense wat in ‘n week aangeval is. Hulle het seergekry, maar hulle kon dood gewees het. Ek wonder hoeveel is daar wat so aangeval word? Klerksdorp raak nou net te gevaarlik,” sê Melanie.

Kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het in reaksie hierop gesê dat slagoffers van misdaad in die middestad dit by die polisie moet aanmeld. “Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Gaan meld sake aan, want dan weet die polisie wat gebeur. As mense te bang is om na die polisiestasie te gaan, sal die polisie lede stuur om hul verklarings te neem. Hulle kan dit so doen,’’ het sy gesê.