Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, Nersa, het Eskom se aansoek om tariewe in die volgende drie finansiële jare met onderskeidelik 36,15%; 11,81%; en 9,1% te verhoog, verwerp.
In die plek daarvan is 12,74%; 5,36%; en 6,19% goedgekeur. Dié verhoging is meer as drie keer die inflasiekoers.
Dr Wynand Boshoff, VF Plus-LP het gesê hoewel die verminderde verhoging welkom is, sal verbruikers steeds daaronder ly. “Die dilemma waarin Eskom homself bevind, is die hoë koste van sy bedryf en om skuld te diens, terwyl onafhanklike kragopwekking steeds goedkoper word.
“Dit beteken dat Eskom toenemend betalende kliënte verloor, maar steeds die verpligting het om basislading aan die kragnetwerk te voorsien en diegene wat nié hul eie stelsels kan installeer nie.’’
Die VF Plus het verbruikers aangemoedig om hande te vat om alternatiewe opwekking te installeer. “Verbruikers moet hulleself Eskom-bestand maak.’’
Dit was nie lank na Nersa se aankondiging op Vrydag 31 Januarie dat Eskom vir die eerste keer in 10 maande weer beurtkrag aangekondig het nie. Volgens Eskom was dit nodig om reserwes aan te vul weens nodige herstelwerk by ‘n paar kragstasies. Beurtkrag het tot Sondagoggend 2 Februarie geduur.