Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Tjonkie van Rensburg, beminde onderwyser en geliefde adjunkhoof by Laerskool Meiringspark, het afgetree. Hy was 28 jaar verbonde aan Laerskool Meiringspark.
Tjonkie, soos mense hom ken, het gedurende1990 by Meiringspark begin skool hou vir tien jaar. Daarna was hy bevorder as departementshoof en het agt jaar in Rustenburg skoolgehou. Hy het in 2009 as adjunkhoof teruggekeer na Meiringspark en was waarnemende hoof tot en met sy aftrede einde Januarie vanjaar.
Hy het diep spore by die skool getrap en van sy hoogtepunte was die tydperk 1995 - 2000 waar die skool bykans skoonskip gemaak het in Klerksdorp se laerskole netbal- en rugbyligas. In 1999 was Meiringspark die heel eerste Super 12 wenners (algeheel). Hy het ook die Cravenweek o/13-span afgerig.
2004 was nog ‘n groot hoogtepunt vir hom. Dit was die eerste keer dat sy Luiperdspan die hoofwedstrydfinaal kon speel en die dag die Blou Bulle geklop het. Spelers wat tans speel, wat as 0/9 tjokkers kaalvoetrugby onder sy afrigting gespeel het, is PJ Botha (Leeus haker) en Neetling Fouché (Stormers voorry).
Met atletiekafrigting (hekkies en hoogspring) het hy ook twee SA kampioene opgelewer. Gedurende die 1990s was hy ‘n WTvl - krieketafrigter. Tjonkie sal ook altyd onthou word as ‘n kampioenstoeier wat die land ‘n paar keer as Springbok verteenwoordig het.
Sy vrou, Catrien, was ook 38 jaar in die onderwys en het verlede jaar afgetree. Die egpaar het vier kinders, waarvan drie seuns in die onderwys is en ‘n dogter wat ‘n prokureur is.
Tjonkie sê wat hy die meeste van skoolhou gaan mis, is die wonderlike ontwikkeling van ‘n kind wat in gr R instap tot die vordering as hulle gr 7 uitstap. Natuurlik ook die kolwyntjies wat verjaardagmaats altyd vir hom in die kantoor gebring het.
Laerskool Meiringspark se personeel sal hom altyd onthou as ‘n leerkrag wat groot impak met sy entoesiasme en omgeehart gemaak het. Hy sal veral onthou word vir sy besonderse sin vir humor en al die staaltjies van sy lewe wat hy vertel. Nou gaan hy eers rus en gholf speel.