Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Orkney & Klerksdorp Diereskuiling het sy kommer uitgespreek oor motoriste wat die spoedgrens oortree en nie diere langs en in die pad in ag neem nie.
‘n Motoris het op Sondag 14 Januarie twee koeie regoor Kanana op die Orkneypad getref. Die diere wei in die omgewing en word gewoonlik teen 10:00 en dan laatmiddag oor die pad gejaag.
Waarskuwingsborde is al op die pad opgerig om op die uitkyk te wees vir losloperdiere en daar is ook nêrens ‘n heining in sig nie.
Die ongeluk Sondagoggend was vir Diane Jacobs van die skuiling die laaste strooi aangesien die koeie van kant gemaak moes word en toe net daar langs die pad geslag is.
Die bestuurder van die warmgemaakte VW Gholf het sonder beserings ontsnap. Diane het aan Klerksdorp Rekord gesê dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. “Drie koeie het in September gevrek toe ‘n ander motor ook in hulle vasjaag. Presies op dieselfde plek waar jy by die brug afry in die rigting van Orkney,” het sy verontwaardig gesê.
“Sondag se botsing het om 09:50 plaasgevind en ons het ure in die son deurgebring om die diere by te staan net om te sien hoe die eienaars hulle moes slag, aangesien die diere se bene gebreek het. Die een het ook ‘n kopwond gehad nadat een se horing deur die motor se voorruit is,” het sy gesê.
Sy het ‘n beroep op motoriste gedoen om op te let vir die beeste, aangesien hulle die pad al die afgelope 15 jaar oorsteek.
“’n Motoris kan sy lewe verloor in so ‘n botsing. Dit is gevaarlik. Hou by die spoedgrens en jy kan ‘n botsing voorkom.”