Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Inwoners van Adamayview het Woensdagoggend 25 Junie sonder elektrisiteit wakker geword.
Die oorsaak is glo die substasie by Laerskool Goudkop wat die vorige aand gevandaliseer is.
Rdl Inge Wilken het inwoners op die Wyk 39-Whatsapp-groep in kennis gestel van die voorval en die skool bedank vir sy vinnige optrede.
Abrie Cloete, adjunkhoof, het aan Klerksdorp Rekord gesê dat CSS Sekuriteit hom om 22:56 van ‘n probleem by die skool in kennis gestel het.
Hy het ‘n boodskap gekry dat hulle op die toneel is nadat mense glo oor die palisades gespring het. “Ek het dadelik skool toe gery en was net na 23:00 daar. Die skuifhek en slot was oopgebreek en daar is merkbare skade aan die substasie. Daar is ook ‘n gat in die plafon. Die hek by die substasie was nie gesluit nie.”
Volgens hom lyk dit asof die inbrekers verras is, want hulle het hul toerusting agtergelaat.
Hy is vol lof vir CSS, want hulle het deur die hele skool geloop en die terrein gefynkam om seker te maak daar is niemand wat skade wil doen nie, en hulle het ook wagte geplaas.
Die polisie het ook later opgedaag.
Dit was teen druktyd nie seker hoe lank die buurt sonder elektrisiteit sou wees nie.