Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Die LUR van Gesondheid in die provinsie het ‘n taakspan een maand gegee om antwoorde te kry na die dood van ‘n pasiënt van die Witrand Psigiatriese Hospitaal.
Sello Lehari het in ‘n vergadering op Dinsdag 24 Junie die taakspan onder leiding van die ervare prof John Tumbo, opdra gegee om die dood van Quinton du Plessis te ondersoek. Hy verwag terugvoering teen 1 Augustus.
Hy het beklemtoon dat die Gesondheidsdepartement aanspreeklikheid het en daarom deursigtig moet wees. “Ons moet weet wat hier gebeur het. Ons skuld dit aan die familie en die gemeenskap om seker te maak dat die saak deeglik ondersoek word en vasgestel word wat hier gebeur het.’’
Die polisie het ook bevestig dat klagtes van aanranding en verkragting ondersoek word na die dood van Du Plessis. Volgens provinsiale woordvoerder Brigadier Sabata Mokgwabone, kan nog klagtes bygevoeg word na afloop van die nadoodse ondersoek.
Colette du Plessis van Klerksdorp soek geregtigheid vir haar broer se dood. Sy vertel sy het op 1 Junie met hom gepraat. “Hy het baie gehuil en aanhoudend gesê hulle maak hom seer en dat ek hom moet kom haal. Ek het met ‘n verpleegster gepraat wat my na ‘n dokter toe verwys het. Hulle het vir my gesê daar is ‘n wond op sy gesig wat as ‘n klein tipe van pitsweer begin het, maar omdat hy dit aanhou krap het, het dit ontsteek en ‘n abses gevorm.”
Met Colette se besoek op 5 Junie het sy gesien daar is merke op sy voorkop. By navraag het die personeel vir haar verduidelik dat hy homself op die vloer neergegooi het, glo omdat hy sy gesig in die spieël gesien en dit hom geskok het.
“Hy kon nie mooi praat of behoorlik sluk nie, sy vel was yskoud, sy hare was klam en sy naels was baie lank gewees. Die personeel het vir my gesê daar is nie naelknippers beskikbaar nie. Ek wou hom graag saam met my vat, maar die dokter het gesê dat die wond aan sy gesig twee keer ‘n dag skoongemaak moet word. So, hy moet daar bly. Ek het haar vertrou, want sy is ‘n dokter, sy weet van beter.
“Ek verwyt myself dat ek hom nie daardie dag saam met my gevat het nie. Ek is so jammer,” het ‘n emosionele Colette gesê.
Op 9 Junie het Colette ‘n oproep ontvang dat die Witrand personeel vir Quinton bewusteloos langs sy bed gevind het. Hy is na ‘n ander saal geskuif waar hy versorg moes word. Daardie selfde aand is Quinton per ambulans na die Potchefstroom-hospitaal geneem. Nadat Quinton na Potch-hospitaal oorgeplaas is, het Colette verskeie toetse aangevra. Sy het ook aangedring op ‘n verkragtingstoets. Dit was positief.
“Die dokter by Potch-hospitaal het my laat weet dat ek so gou as moontlik moet deurkom. Toe ons op 11 Junie daar kom was my boetie in ‘n koma. Sy hele lyf was vol bloukolle, ‘n groot wond aan die agterkant van sy kop, en sy skedel het gevoel of dit ingeduik is.’’
‘n Dag later het Quinton geringe verbetering begin wys, maar kort na die dokters sy suster laat weet het dinge gaan bietjie beter, het Colette die oproep ontvang dat Quinton se hart gaan staan het.
“Ons was alreeds op pad toe ons weer ‘n oproep kry dat hulle al vir 23 minute probeer om hom by te bring, maar dat hulle nou gaan ophou. Die vrae hou my wakker in die aande, waar was hulle toe my boetie geskree het en toe hy verkrag is? Hy was nie in so ‘n toestand toe hy in 2014 daar opgeneem is nie. Hy was maatjies met almal en het almal vertrou,” het Colette gesê.