Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die een oomblik was hul kind blakend gesond en toe, binne weke is sy dood.
Pieter en Cathy Brits sukkel nog om tot verhaal te kom nadat hul jongste kind vandeesweek oorlede is nadat sy net na Kersfees met breinkanker gediagnoseer is.
Maya was tien jaar oud. Sy is op 3 Desember in die hospitaal opgeneem met erge braking en het net sieker geword. Sy was vir die laaste paar weke bewusteloos.
“Die dokters het ons kort na Kersfees meegedeel hulle sal nie die gewas in haar brein kan verwyder nie. Dat daar niks was wat hulle vir haar kan doen nie. Die operasie was lewensgevaarlik omdat die gewas op haar breinstam was. Maar ek het nog steeds elke dag vir ‘n wonderwerk gebid, maar ook met die woorde ‘laat U wil geskied’,’’ het Pieter op Dinsdag 7 Januarie aan Klerksdorp Rekord gesê.
Klein Maya het in die vroeë oggendure gesterf. “Dit het nog nie ingesink nie.’’
Maya was ‘n opgewekte gr 3 leerling in Laerskool Meirinspark toe sy vroeg verlede jaar begin siek voel het. “Sy is met ‘n breingewas gediagnoseer en omdat haar brein vog nie genoeg dreineer nie het hulle ‘n dreineringsklep ingesit en alles het goedgegaan. Ek het ook as ‘n kind ‘n breingewas gehad so ons het gedink als is reg.’’
Oktober het Maya begin sleg voel en sy is vir ‘n week opgeneem vir toetse, want dokters het vermoed die klep het moontlik ‘n blokasie. “Alles was egter reg, maar hulle het agtergekom haar proteïentellings is baie hoog, maar dit kon toegeskryf wees aan haar medikasie. Sy was egter baie beter en het aan die skool se liedjiesfees deelgeneem waar sy gedans en sing het, toetsreeks geskryf en toe begin Desember skielik siek geword.’’
Dit was vir Pieter, ma Cathy en haar ouboet hartverskeurend om die fyn blondekoppie net te sien lê, sonder reaksie. “Ons het die heeltyd met haar gepraat, haar vertel hoe goed sy in haar rapport gedoen het en hoe lief ons haar het. Maar sy het net swakker geword, later het dit nie meer gevoel soos sy wat daar gelê het nie. Sy het baie swaargekry op die einde.’’
Laerskool Meiringspark het in ‘n huldeblyk gesê Maya se “lig en lag het almal aangeraak wat haar geken het’’. Reëlings vir die roudiens was teen druktyd nog nie bekend nie.