Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Gemeentelede van die Lede in Christus kerk het Maandagmiddag 8 Desember met skok en afgryse reageer na die nuus dat die kerk se afgetrede pastoor, sy vrou en hul volwasse seun in ‘n motorongeluk gesterf het.
Michiel Erasmus (69), sy vrou Betsie (68), en hul seun, Martin (47), was onderweg na Sandton vir mediese behandeling vir Michiel toe hulle omstreeks 15:00 in ‘n wolkbreuk en haelstorm beland. Dit was tussen Fochville en Westonaria in Gauteng.
Juan du Preez, huidige pastoor van die Lede in Christus Kerk in Freemanville, sê die tyding was ‘n groot skok vir die gemeente. Die Erasmus-egpaar was baie geliefd en nog aktief betrokke by die kerk. Martin was ‘n bekende gesig by die NW Musikon. Volgens hom is dit ‘n raaisel wat gebeur het en moes dit chaos op die besige pad gewees het met al die reën en hael. Die N12 was vir ‘n geruime tyd na die ongeluk vir verkeer gesluit.
“Die motors het glo nie beweeg nie en niemand kon enigiets met al die reën sien nie. ‘n Ander voertuig het hul voertuig van die kant getref,” vertel past Juan du Preez.
Luidens ‘n berig in die Carletonville Herald, het ‘n BMW en ‘n Toyota Hilux bakkie naby Kloofmyn in die slegte weer teen mekaar gebots. Die gesin van Klerksdorp het in die BMW gery. Hulle is die enigste oorledenes.
Volgens Juan stroom boodskape van medelye van regoor die wêreld in. “Michiel is ‘n pastoor, maar is afgetree. Martin was ‘n plaaslike rekenmeester. Hy was ‘n lid van die Zephyrus-orkes en op die beheerliggaam van die NW Musikon. Hy het twee kinders. Michiel en Betsie het ook nog ‘n dogter.”
‘n Gesamentlike begrafnisdiens word gehou om 11:00 op Vrydag 19 Desember in die Lede in Christus Kerk op Stilfontein.










