Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Vuurwerke is dalk mooi en dis pret om dit af te skiet, maar dit is ‘n kakofonie van geraas vir diere.
Diere is steeds erg getraumatiseer na Oujaarsaand, sê Diane Jacobs van Orkney & Klerksdorp Animal Shelter. Die polisie het gewaarsku dat hulle gaan optree teen diegene wat vuurwerke in woongebiede afskiet, maar volgens haar het die plaaslike polisie glad nie opgetree nie en is verskonings soos geen voertuie gebruik om nie teen oortreders op te tree nie.
Volgens haar het die SAPD in Gauteng glo nie net gewaarsku nie, maar sy “gee op met die Kosh-gebied”.
“Ons is oorvol en kan nie meer diere inneem nie. As jou hond of kat weg is, kom kyk asseblief of die dier nie by ons is nie. Ons het hordes diere. Ons het boerboele en terriërs en hope katte,” sê sy.
Diane en haar personeel herstel nog na die traumatiese ervaring van Oujaarsaand met vier diere wat dood is, ‘n dier wat doodgetrap is nadat hy verward probeer weghardloop het en ‘n ander wat bo-op ‘n palisade heining deurboor is. “Ons het ook twee diere wie se harte gaan staan het,” sê sy.
Volgens Suzette Kotze is die Matlosana Animal Shelter op Stilfontein ook oorvol. “Die skiet van klappers was nie so erg op Stilfontein nie, maar Klerksdorp was soos ‘n oorlogsone.”
Skakel die Orkney & Klerksdorp Animal Shelter by 074 306 9811 of die Matlosana-Stilfontein Animal Shelter by 072 814 5927 indien jou dier vermis is.
Volgens brig Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het die polisie geen amptelike klagtes ontvang nie.